Skaakspelertal groei ongeag uitdagings

Malmesbury se eerste skaakklub, wat in Junie verlede jaar tot stand gebring is, groei “met ’n spoed”, sê Michael Ross, een van die stigterslede, opgewonde.


Malmesbury se eerste skaakklub, wat in Junie verlede jaar tot stand gebring is, groei “met ’n spoed”, sê Michael Ross, een van die stigterslede, opgewonde.

“Ons het nou altesaam 13 skaakspelers onder die Swartland-gemeenskap­sportsentrum op ons databasis,” vertel hy trots. Volgens hom is die 13 spelers die klub se toegewyde skaakspelers wat junior en senior lede insluit.

“Nog 10 spelers is tans in hul proeftydperk voordat hulle permanent tot die klub goedgekeur kan word,” voeg Ross by.

Hy verduidelik dat ’n wagtydperk van sowat twee weke gehandhaaf word waar ’n speler oefeninge moet bywoon voordat hy of sy op hul databasis geplaas mag word om ’n plek in die span te kry. Voornemende spelers moet hul toegewydheid hier bewys. Die toelatingsvereistes geld vir junior en senior leerders.

Die junior span het onlangs in November verlede jaar aan hul heel eerste toernooi, die Grand Chess-toernooi, deelgeneem – skaars vyf maande ná die stigting van die klub. Dit was gedurende dié toernooi waar hulle hul eerste graderingspunte bekom het om sodoende onder die plaaslike Weskus-skaakvereniging as skaakspelers geregistreer te kon word.

Noudat die klub toegewyde spelers het, fokus Ross en sy medestigter, Charles Kulu, op die registrasie van die klub, maar ook om ’n vennootskap met die plaaslike streek se skaakunie te bou, waar geleenthede vir hul spelers geskep kan word. “Ons wil ons spelers graag wys dat hulle ’n moontlike loopbaan in skaak kan verdien,” meen hy.

Die klub verwelkom enige skenkers en borge wat betrokke wil raak en hul spelers van die nodige toerusting wil voorsien. “Op die oomblik maak ons beurte op borde, veral wanneer die hele span bymekaarkom. Ons benodig toerusting soos borde en tydhouers, want ons groei baie vinnig,” voeg hy by.

Sy hart klop warm wanneer hy sien hoe leerders die E-sentrum (Kurovo Sentrum) besoek en agter ’n skaakbord eindig. “Dit wys belangstelling bly groot.” Ross verwelkom enige navrae sou daar belangstelling wees om betrokke te raak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.