Isabella Niehaus, die eienaar van en sjef by Langtafel op die Duin, deel meer met die joernalis Noluvu Ludidioor haar liefde vir kos en haar ervarings in die bedryf.
Jou liefde en passie vir kos – waar kom dit vandaan? As moderedakteur het ek die wêreld deurreis en die wonderlike voorreg gehad om in wonderlike eetplekke te eet. So, ek en lekker kos en lekker eet het ’n lang pad gestap. Toe die idee kom om etes by my huis te hou, het ek nuwe uitdagings met groot geesdrif – en as ek dit mag sê – ’n goed geoefende palet aangepak.
Het jy enige opleiding ondergaan en waar?
Ek is ’n selfgeleerde kok. Ek het kookklasse by La Creuzette in Boussac in Frankryk asook ’n dagkursus by ’n kookskool in Parys bygewoon. Ek het ook by plaaslike kosmense soos Sophia Lindop, Nina Timm, Theresa de Vries, Annelien Pienaar en Jaco Brand geleer.
Wanneer het jy “Langtafel op die Duin” gestig en wat maak dit so uniek?
Ek het die Langtafel in 2012 in die hart van my huis begin. ’n Ete by Langtafel op die Duin is ’n ervaring. Jy eet in iemand se huis en kry ’n kykie in daardie persoon se siel. Jy ontmoet mense van oral, en ek sê dikwels: “Julle arriveer as vreemdelinge en gaan dikwels laatmiddag as vriende huis toe.” Die hele huis is oop en die kombuis is deel van die onthaalruimte. Ek kook voor die gaste en ek kook terwyl hulle daar is. Dit is soos om by ’n vriendin te gaan eet.
Ek glo almal het ’n kosfilosofie – wat is joune?
Ek glo om die beste en varsste bestanddele te gebruik. ’n Bord kos is soos ’n kunswerk met verskillende interessante teksture en smake op een bord.
Wat geniet jy die meeste wanneer jy kos maak en sou jy ook sê dis ’n soort kuns? Dit is gewis ’n kuns en ’n enorme lekkerte. Vir my is die uitdaging om te verseker dat die kos lae geur het en nie net een enkele smaak nie – klein verrassings wat in jou mond ontplof. Dit is steeds ná 10 jaar vir my lekker om iets spesiaals vir elke ete te doen! En dit is die reuk van komyn vroegoggend en die knie van die mosbolle wat ’n glimlag op my gesig sit!
Wat is een of twee van jou beste hoogtepunte in jou loopbaan? Om vir my koshelde soos Reuben Riffel, Kobus van der Merwe en Johnny Hamman te kook!
Hoe voel dit om jou resepte met ander te deel en wat beteken dit vir jou? Ek is gek daaroor om resepte te deel. Dit is so ’n lekkerte om te dink iemand wil my gereg gaan maak. Ek deel met die grootste liefde.
Jy skryf ook kookboeke en jou eerste boek het ’n wêreld-toekenning gekry? Ek het nog net een gepubliseerde boek geskryf, wat ’n fantastiese ervaring was: Duinhuis – smake en geure. Die boek het ’n Gourmand World Cookbook Award gekry as die beste kookboek in die wêreld in die kategorie onthaal. Ek het in November verlede jaar my prys in Parys gaan haal. Ek het egter ook tydens die grendeltyd twee digitale boeke geskryf. Duinhuis is nie net ’n resepteboek nie, maar ook die wonderlike storie van my kosreis – die pad wat ek gestap het.
Het jy enige raad vir huiskokke wat die kosmaakbedryf wil betree? Gebruik net die beste bestanddele. Don’t cut corners. Moenie te grand of anders probeer wees nie. Toets, toets en toets weer jou eie resep totdat dit perfek smaak.