Shawn Day van Malmesbury het die RSG-dramaskryfkompetisie in die afdeling vir Jong Skrywer gewen. Sy drama heet Die Versamelde Dagboeke van ene professor Weideman.
Shawn het in 2020 (die covid-jaar) aan die Hoërskool Swartland gematrikuleer en daarna ’n graad in drama aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.
Hierdie is sy eerste radiodrama.
Shawn het reeds op skool erkenning gekry vir dramas wat hy vir skooltoneelstukke geskryf het. “Ek was redelik gemaklik met die skryfwerk aangesien ek al ’n paar onder my pen gehad het. Maar wat die radiodrama ingewikkeld gemaak het, was dat ek slegs met klanke kon werk.
“Daar is geen beskrywings van beelde of rekwisiete of stelontwerp nie. Dis alles net klanke. Dit was dus nogal ’n uitdaging om die drama slegs met klanke voor te stel, en jy is pal aan die werk om alles in jou kop te hoor soos wat dit afspeel – agtergrondklanke, die klanke van ’n koppie koffie wat gemaak word, ensovoorts. Maar dis juis die lekker ding van die medium. Dit is uit en uit, soos Chris Barnard skryf, ’n wêreld van klank. Dis teater van die verbeelding.”
Toe die wenners aangekondig is en Shawn in ’n RSG-uitsending hoor hy is as wenner vir sy drama gekroon, was hy sprakeloos. “Ek het skoon begin bewe en ek kon nie woorde uitkry op die vrae wat hulle vra nie – heeltemal ’n skok vir die liggaam. Maar toe skop die opgewondenheid in; die gedagte dat hierdie storie nou met ’n breër gehoor gedeel gaan word en meer mense gaan dit kan hoor. Die storie gaan lewe kry, soos Frankenstein se kreatuur. Toe die oproep verby is, is ek gemotiveer om aan die volgende een te begin skryf. En die volgende een. En die volgende een!”
Hou gerus die oor teen die radio, aangesien hierdie drama in 2025 opgeneem en oor RSG uitgesaai sal word.