Sewestoernooi gaan voort

Wesbank-rugbyklub maak gereed vir die gewilde jaarlikse Malmesbury Sevens wat vanjaar uiteindelik weer kan plaasvind nadat dit verlede jaar weens Covid-19-beperkings afgestel moes word.


Wesbank-rugbyklub maak gereed vir die gewilde jaarlikse Malmesbury Sevens wat vanjaar uiteindelik weer kan plaasvind nadat dit verlede jaar weens Covid-19-beperkings afgestel moes word.

Die toernooi vind Saterdag 29 Januarie by Wesbank-rugbyklub se sportterrein in Alfastraat plaas.

St George’s van Strand, wat die laaste sewestoernooi in 2020 gewen het, gaan die jaar weer aan die kompetisie deelneem asook verskeie plaaslike spanne soos Moorreesburg, Abbotsdale en Spairs wat reeds hul deelname bevestig het.

Nog spanne soos Helderberg, Strand, Evergreens, Mamre, Hamlets, Kylemore en Young Hearts het ook hul plekke bevestig asook die Pretoria Harlequins, naaswenners van die laaste sewestoernooi wat weer na Malmesbury sal reis.

Die deelnemende spanne moes egter vanjaar weens Covid-19 van meer as 50 na 24 spanne verminder word en die toernooi sal slegs oor een dag plaasvind en nie oor twee dae soos in die verlede nie.

Die prysgeld bly egter onveranderd op R50 000 vir die wenspan en R10 000 vir die naaswenner. Die speler van die toernooi word beloon met R1 000.

Hekgeld beloop R30 vir volwassenes; voertuie en skoliere betaal R20.

Rugbyondersteuners wat na die toernooi wil kom kyk, moet hul inentingsertifikaat by die hek toon om in die stadion toegelaat te word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.