’n Polisieman van die Redelinghuys-polisiekantoor is Donderdag 28 April op slag dood in ’n botsing reg van voor in die Eendekuil-omgewing.
Sers. Jonathan Adams (32) was aan diens toe die botsing sy lewe geëis het.
Kapt. Renier Bostelmann, bevelvoerder van die Redelinghuys-polisie, sê Adams het die dag van sy dood by die Piketberg-hof gewerk en was op pad terug na die Redelinghuys-polisiekantoor toe die botsing skuins ná 12:00 gebeur het. Die bakkie waarin hy gery het, het teen ’n vragmotor gebots. Die twee insittendes van die vragmotor is nie beseer nie.
Bostelmann het Adams as ’n “betroubare en hulpvaardige polisieman” beskryf en sy innige meegevoel namens sy kollegas aan die familie uitgespreek. – Trish Goosen