Elke paar jaar rol die nasionale regering ’n sensusprojek uit wat daarop gemik is om data in te samel oor Suid-Afrikaners. Die data word gebruik as ’n hoeksteen vir alle beplanning en begrotings, vanaf munisipale vlak tot op nasionale vlak.
Die Swartland-munisipaliteit sê in ’n verklaring dit is vir hom uiters belangrik dat elke inwoner van Swartland aan die proses deelneem.
“Akkurate data oor die aantal huishoudings, sosio-ekonomiese omstandighede van huishoudings, en toegang tot basiese en gevorderde dienste, is uiters belangrik. Die data speel ’n deurslaggewende rol wanneer dit kom by die deel van die Nasionale en Provinsiale begroting waarop ons geregtig is.
“As inwoners dus nie deel neem nie, kan dit wees dat ons in die toekoms minder befondsing vir projekte vanaf die Nasionale en Provinsiale Regering sal ontvang en dit kan ’n negatiewe impak op dienslewering hê, wat weer belastings kan beïnvloed,” lui die verklaring.
Deur deel te neem aan die sensus, help jy ook ’n akkurate prentjie te skep oor waar watter dienste benodig word, veral wat provinsiale en nasionale dienste betref. Sensusdata kan die munisipaliteit ook help om die aanvra van skole en klinieke te ondersteun.
Stats SA gaan drie metodes gebruik om die sensus mee uit te voer:
• Rekenaarondersteunde persoonlike onderhoud (CAPI),
• Rekenaarondersteunde web-onderhoud (CAWI), en/of
• ’n Rekenaarondersteunde telefoniese onderhoud (CATI).
Alle inwoners word aangemoedig om te registreer en jou voorkeuropsies te kies om die sensusvraelys óf met óf sonder die bystand van ’n sensusveldwerker te voltooi. Registrasie kan via slimfone of rekenaar gedoen word en verg geen data nie. Indien jy enige probleme met die aanlyn-registrasieproses ervaar, kontak gerus die Stats SA-inbelsentrum by 0800 110 248.
Om te registreer gaan na https://getcounted.statssa.gov.za/#!/home . Die sensus het reeds op 2 Februarie begin. Maak dus seker jy word getel!