Sensus verstryk vandag – tyd om jou te tel!

Vandag (31 Mei) is die laaste kans om jou te laat tel aangesien die sperdatum vir die nasionale sensus amptelik verstryk.


Vandag (31 Mei) is die laaste kans om jou te laat tel aangesien die sperdatum vir die nasionale sensus amptelik verstryk.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het benadruk waarom dit vir landsburgers belangrik is om in die sensus getel te word. Winde sê dit is noodsaaklik om soveel inwoners as moontlik te tel sodat die provinsie sy billike deel van die nasionale begroting kan kry.

Onlangs was nog net 70% van Wes-Kapenaars getel.

“Die Wes-Kaap kan finansiering verloor gelykstaande aan 1 615 dokters of 5 981 verpleegsters, en meer as 9 300 onderwysers, as net 70% van die inwoners in die 2022-sensus getel word. Dit is volgens benaderde skattings deur die Wes-Kaapse provinsiale tesourie.”

In begrotingsterme gaan die provinsie R9,7 miljard verloor, of meer as 16% van die provinsiale billike aandeel, as net 70% van die inwoners getel word. Dit sal beteken dat R2,6 miljard se finansiering vir die gesondheidsbegroting en R4,2 miljard van die onderwysbegroting minder gemaak kan word, met kleiner departemente wat ook verliese kan ly.

“Kortom, dienslewering in die Wes-Kaap sal oor die algemeen ’n groot slag ervaar as inwoners nie seker maak hulle word getel nie.”

Voltooi die sensusvorm aanlyn van ’n selfoon of enige ander toestel deur getcounted.statssa.gov.za te besoek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.