MALMESBURY – Die Swartland se eie Samantha Liedeman se huiskosresepte verskyn al sedert verlede jaar in die Kuier-tydskrif. In die Kuier Combo wat nou op die rak is, kan lesers 16 van haar kosidees op die proef stel.
Sy is een van drie vroue wat verlede jaar deur Kuier gekies is vir hul kosmaakvernuf. Kuier gee vir haar vier temas vir die jaar waarna sy unieke resepte skep. Met elke tema moet sy tien resepte indien waaruit die tydskrif ses vir publikasie kies.
Sy is beskeie oor dié prestasie, so asof dit in enige een se broek sit om so kreatief voor die kospotte te wees dat ’n tydskrif bereid is om jou resepte te koop.
Samantha is ’n gemaklike, borrelende vrou en het verlede Woensdag vertel hoe sy haar liefde vir kosmaak van haar ouers gekry het wat albei ywerige kokke is. Haar ma het haar vrye teuels in die kombuis gegee sodat sy na hartelus kon eksperimenteer.
Bak beskryf sy as ’n wetenskap omdat dit nie baie ruimte laat vir eksperimenteer nie en sy dus verkies om te kook.
Samantha hou voltyds skool in Atlantis waar sy kinders leer kosmaak as een van die vakke wat sy aanbied. “Ek doen elke dag waarvan ek van hou,” straal sy.
Haar wenresep is ’n Marokkaanse lamsbredie wat sy sê gewaarborg is om elke keer harte te steel.
Samantha hou van eksperimenteer, maar erken sy het ’n totale flop van die Italiaanse Gnocci gemaak en kan tot vandag toe nie uitwerk presies wat sy verkeerd gedoen het nie.
Sy het raad om die perfekte samoesa te maak en sê die beste kombuistoestel vir dié gereg is ’n outydse koekroller. Sy wys na ’n rak vol kombuistoestelle wat met elke verjaarsdag en spesiale geleentheid meer word omdat dit haar keuse vir die ideale geskenk is, maar bieg dat sy nie alles gebruik nie.
Sy eet eerder by die huis as in restaurante, maar as uiteet nou ’n móét is, verkies sy Reuben’s in Franschhoek of Mama Cucina in Riebeek-Kasteel vir lekker eet en kuier saam met vriende