MOORREESBURG – ’n Groot aantal afgevaardigdes in die toerismebedryf in die Weskus en die Wes-Kaap het Maandag 28 September op Piekenierskloof vergader vir ’n konferensie oor Verantwoordelike Toerisme. Onder die afgevaardigdes was Allan Winde, die Wes-Kaapse minister vir ekonomiese geleenthede en landbou.
Winde het die belangrikheid van toerisme as werkskepper in die Wes-Kaap beklemtoon. Hy het die afgevaardigdes aangemoedig om verantwoordelike toerisme na nuwe hoogtes te neem. “Die manier waarop u kliënte behandel asook die omgee vir u omgewing is ewe belangrik,” het hy gesê.
Die doel van die konferensie was om sakemense in die Weskus bewus te maak van die belangrikheid van verantwoordelike toerisme en die volhoubaarheid daarvan.
Afgevaardigdes is in drie wegbreekgroepe verdeel. Elke groep het ’n spesifieke onderwerp gekry om te bespreek. Hier het gassprekers insette gelewer oor hul bydraes tot verantwoordelike toerisme oor die jare. Die klem het geval op produkte wat ’n positiewe impak op ekonomiese, sosiale en omgewingsvlakke lewer.
Samantha Annandale, bestuurder van ’n hotel in Kaapstad, wat ’n nasionale toekenning ontvang het as een van die groenste hotelle in Afrika, was die hoofspreker. Volgens haar maak die hotel van sy eie windturbines en sonpanele gebruik om energie op te wek. Sogenaamde grys water (of grey water, gebruikte water van badkamers, wasmasjiene en ander veilige bronne) en reënwater word met ’n gevorderde energiestelsel omskep om temperatuur in die kamers te beheer.
Wilfred Chivell van Marine Dynamics op Gansbaai, wat toeriste op see neem om saam met die haaie te duik, was een van die sprekers wat oor die bewaring van die kuslyn en die seelewe gepraat het.
As deel van sy bydrae om omgewingsbewustheid aan te moedig, het hy spesiale houers langs die see laat oprig waar ou afval-vislyn gestoor word, wat weer deur die plaaslike vissers gebruik word.
Lesley Gillet van Bartholomeus Klip buite Hermon, het oor die belangrikheid van opleiding gesels. Opleiding van personeel en die gemeenskap is een van hulle hoofbydraes tot verantwoordelike toerisme.
Winde het die afgevaardigdes versoek om ’n aksieplan na afloop van die konferensie saam te stel.
Die konferensie is afgesluit met die verkiesing van ’n nuwe bestuur vir die Weskus streek-toerismeorganisasie. Lizanne de Jongh van Saldanhabaai-streek en Hilary Morris van Bergrivier-toerisme is onderskeidelik die voorsitter en ondervoorsitter.
Monika de Jager van Namaqua West Coast is bemarkingsvoorsitter en Yvette Odendaal is die ontwikkelingsvoorsitter