SA wynbedryf oorleef só

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf deel die Nasionale koronavirus-bevelsentrum (NCCC) se kommer oor ’n toename in Covid-19-infeksies, maar verwelkom die risikogebaseerde benadering rakende die maatreëls wat ten doel het om die aantal aktiewe gevalle in di


Die Suid-Afrikaanse wynbedryf deel die Nasionale koronavirus-bevelsentrum (NCCC) se kommer oor ’n toename in Covid-19-infeksies, maar verwelkom die risikogebaseerde benadering rakende die maatreëls wat ten doel het om die aantal aktiewe gevalle in die feestyd te verminder.

Die NCCC het Donderdag 16 Desember in ’n verklaring aangekondig Suid-Afrika bly op die Covid-19-waarskuwingsvlak 1, aangesien hospitalisering- en sterftesyfers laag bly ondanks ’n toename in infeksies met die Omikron-variant.

“Ons is verlig dat die Suid-Afrikaanse regering nie strenger nasionale beperkings ingestel het wat in die feestyd ’n ernstige uitwerking op wynkelders, wyntoerismebestemmings en die derduisende gesinne wat van die bedryf afhanklik is, sou hê nie,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Dit blyk hierdeur dat die regering gehoor gee aan die bedryf se deurlopende versoeke vir risiko- en feitgebaseerde besluitneming rakende handelsbeperkings op drank.”

Wynkelders is hoogs afhanklik van wyntoerisme vir hul voortbestaan, veral gedurende die somermaande. Hoewel die VK sy grense na Suid-Afrika heropen het, het heelwat kelders feitlik oornag ’n groot deel van hul internasionale toerismemark weens internasionale reisbeperkings verloor, wat wesenlike finansiële implikasies inhou. “Binnelandse toerisme is veral ’n belangrike reddingsboei vir hierdie ondernemings, en daarom is ons verlig dat hulle steeds in hierdie tyd met al die nodige veiligheidsmaatreëls handel kan dryf.”

Basson beklemtoon dat die regering nie beperkings op drankhandel oor provinsies heen moet inspan as ’n manier om hospitaalkapasiteit te skep nie. “Die regering moet self die voortou neem in die land se reaksie op die nuutste vlaag infeksies deur te verseker dat die gesondheidstelsel voorbereid is, die inentingskoers versnel en wetgewing met betrekking tot Covid-19-protokol streng toepas,” sê Basson.

Hy doen ook ’n ernstige beroep op elke landsburger en onderneming om by die voorkomingsmaatreëls te hou en die veiligheidsprotokol op alle vlakke van die bedryf nougeset toe te pas. “Ons het nou die geleentheid om te wys dat ons kan saamstaan teen Covid-19 om ons bedryf oop te hou.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.