Voordat Ronald Brown sy opspraakwekkende rugbyspel op die wêreldverhoog op skou gesit het, het hierdie Blitzbok, soos baie, ’n nederige begin gehad.
Hierdie 26-jarige Montagu-boorling is op ’n jong ouderdom aan rugby blootgestel deurdat sy familie tydens sy grootwordjare almal gaande oor klubrugby was.
“Toe ek nog ’n jong kind was, was my ma-hulle kranige ondersteuners van klubrugby in die dorp. Ons het elke naweek rugby gaan kyk. Namate ek ouer geword het, het ek ook vanselfsprekend in rugby begin belangstel. Later het ek selfs ook by die plaaslike klub betrokke geraak,” verduidelik Brown Saterdagmiddag tydens ’n telefoniese onderhoud met Gazette.
Om presies te wees, het hy op vyfjarige ouderdom al begin rugby speel.
“Toe ek jonger was, het ek dit nie regtig so ernstig beskou nie. Maar toe ek in graad agt by die Hoërskool Montagu kom, het ek besluit om nie net hard aan my akademie te werk nie, maar ook aan my rugby. Die rede hiervoor was omdat ek net voordat ek hoërskool toe is, ek Boland-proewe gespeel het en amper die span gehaal het. Dit het my laat glo dat ek wel die potensiaal het om dalk eendag vir die ’Bokke te speel,” vertel hy.
Ná ’n paar jaar en baie harde werk het Brown vir Boland uitgedraf.
Hy is in ’n toernooi waaraan Boland in Durban deelgeneem het, deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) genader.
“Hulle het my gevra om vir hulle rugby te speel en het my ’n volle beurs aangebied. Ek het nie twee keer gedink nie en onmiddellik die aanbod aanvaar. Ek het toe daar my graad in die onderwys voltooi.”
Tydens sy tyd by UJ het hy ook vir die Leeus se o.19- en o.21-span uitgedraf.
“Dit was gedurende daardie tydperk by UJ wat een van die Blitzbokke se afrigters en werwers my in 2018 gevra het of ek by Blitzbokke sou wou aansluit, en of ek my 7’s-loopbaan verder wil neem.”
Brown het aan die einde van 2018 by die 7’s-span op Stellenbosch aangesluit en saam met hulle begin oefen.
Hy het wel opgelet dat hy ’n aanhoudende pyn in die bors gehad het, maar aanvanklik het hy nie veel daarvan gedink nie omdat hy nie sy droom om ’n Springbokrugbyspeler te wees, wou prysgee nie.
“Die pyn het net nooit opgehou nie. Ek het maar pynpille gedrink, maar dit het ook nie veel gehelp nie. Ek het vroeg in 2019 ’n dokter geraadpleeg. Ek het ’n gewas in my bors gehad, wat later as limfoom gediagnoseer is. Ek het so baie vrae gehad, maar bowenal wou ek weet of ek weer sou kon rugby speel.”
Ná ses maande van chemoterapie en ’n maand van bestraling was sy kanker in remissie.
“Dit was ’n baie moeilike tydperk toe ek deur al daai behandeling moes gaan. Maar omdat ek al my tyd by die huis moes deurbring, het dit ook gelei na ’n sterker band met my ouers, en dit het my meer tyd gegee om die Bybel te lees. Daar was natuurlik tye waar ek moed wou verloor, maar om my rugbydroom lewendig te hou, het ek altyd ’n bal by my gehad en my ouers het my altyd weer moed ingepraat. Dit was regtig ’n geestelik uitdagende tyd, maar ek het deurgedruk.”
Sy eerste wedstryd terug saam met die Blitzbokke was by die 2021- Olimpiese Spele in Kenia. Hy is later in Desember 2021 tydens ’n toernooi in Kanada as speler van die wedstryd aangewys – iets waaroor hy baie nederig en bedeesd praat.
“Ek is baie dankbaar om dié trui aan te trek. Ek begin nou besef dat ek bekend is aan mense, en dit is iets wat ek op ’n positiewe manier wil gebruik. Ek wil graag my storie met ander jonges deel om hulle te motiveer en te laat besef dat dit moontlik is om jou drome te bewaarheid.
“Ek gaan binnekort begin om motiveringspraatjies vir jongmense te hou.
“Ek wil aan dié jongmense noem alles in die lewe verg moeite, harde werk en dissipline. Daar is geen kortpaadjies op die pad na sukses nie. Hou aan om groot te droom, en bly positief,” verduidelik die Blitzbok oor die foon.