Rowers naby Darling vasgetrek

Vier gewapende rowers is in hegtenis geneem nadat hulle ’n 34-jarige man en sy gesin in hul woning in Silvertown naby Malmesbury beroof het.


Vier gewapende rowers is in hegtenis geneem nadat hulle ’n 34-jarige man en sy gesin in hul woning in Silvertown naby Malmesbury beroof het.

Volgens kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval Donderdagaand omstreeks 20:15 plaasgevind toe die vier verdagtes die man en sy gesin met vuurwapens gedreig en met huishoudelike items, waaronder ’n aantal selfone, asook die man se voertuig, gevlug het.

Die polisie is ontbied en inligting oor die gesteelde voertuig wat in ’n rooftog betrokke was, is per radio aan verskillende stasies in die omliggende gebied oorgedra. Lede van Darling-polisie het hul gebied begin fynkam, maar dit het aanvanklik niks opgelewer nie. ‘n Oplettende motoris het Vrydag die verdagte voertuig sonder nommerplate opgemerk en die polisie daarvan ingelig. Darling se polisiebeamptes het die gesteelde voertuig op die Soutdampad opgespoor en voorgekeer.

Die vier insittendes, tussen die ouderdomme van 25 tot 33, is in hegtenis geneem weens die besit van gesteelde goedere en ’n ongelisensieerde vuurwapen. Hulle sou na verwagting vandag (Maandag) in die Malmesbury-landdroshof verskyn. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.