Rowers kyk toe te diep in bottel

Twee rowers het Dinsdagaand ’n ouer man van Darling in sy huis aangerand, vasgebind en hom beroof.


Twee rowers het Dinsdagaand ’n ouer man van Darling in sy huis aangerand, vasgebind en hom beroof.

Maar te danke aan die polisie se flink optrede is die vermeende rowers vinnig vasgetrek.

Die rowers het hulle só dronk aan gesteelde drank gedrink dat hulle nie vinnig genoeg kon vlug toe die polisie op hulle toeslaan nie.

Volgens die beroofde slagoffer (67) se verklaring aan die Darling-polisie het die rowers – ’n man en ’n vrou – hul huis in Jakarandastraat skuins ná 17:00 binnegekom en hom begin aanval.

Sers. Johnatan Filander, die Darling-polisie se woordvoerder, sê die twee vermeende rowers het die slagoffer met die vuis geslaan en hom met ’n mes gedreig. Daarna is hy vasgebind, sokkies is in sy mond gedruk en hy is na sy slaapkamer gesleep.

Die rowers het toe verskeie goed, waaronder ’n televisieskerm, silwer muntstukke, kos en drank uit die huis gesteel voordat hulle gevlug het.

Sers. Denver Solomons en konst. Waldo Davids het onmiddellik op inligting wat oor die rooftog ontvang is, gereageer en daarin slaag om die vermeende rowers kort ná die voorval in hegtenis te neem.

Volgens Filander is al die gesteelde goedere in die man (25) en vrou (40) se besit gevind.

Die rowers se vergrype aan ’n bottel gesteelde Johnny Walker Red Lable het veroorsaak dat hulle te stadig was om van die polisie af weg te kom.

Die twee verdagtes het reeds Donderdag (17 Maart) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

Buiten ’n paar skaafplekke is die slagoffer ongedeerd.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.