Die gemeenskap van Malmesbury is in rou gedompel ná die dood van ‘n groot gees, ‘n geliefde seun, broer, vriend en rots in liefdadigheidskringe, Andries Burger (28). Hy is op 21 Junie ná ‘n fratsongeluk in die Swartland-hospitaal oorlede.
Sy ouers, Nel en Suretha Burger, beskryf hom as ‘n ware vriend vir sy vriende en was altyd daar om te help. “As ouers weet ons nie waar om te begin nie.
“Ons was verskriklik lief vir hom. Ons sien nie nou die pad vorentoe nie, maar hy sou ‘n antwoord gehad het – soos altyd,” skryf sy ma.
Sy borrelde geaardheid, sy terggees en die passie wat hy vir die lewe gehad het, sal hulle altyd bybly. “Hy het altyd ietsie gekoop of gemaak om ander mense bly te maak. Hy het graag uitgedeel.”
Volgens sy ouers het hulle alles saam gedoen – van aandetes saam beplan, saam gelag, saam gehuil en soms lekker gestry. “Hy het ‘n sterk wil gehad en reg was reg. En hy was min verkeerd; ons het hom altyd gespot.”
Suretha voeg by om dinge as familie saam te doen, was vir hom belangrik. Sy laaste woorde vir sy pa was ‘love you to bits’. “Ons wil net sê ons is oneindig lief vir hom en sal altyd wees. Ons mis hom elke oomblik van die dag en nag.”
Sy jonger broer Niel sê hy het baie goeie herinneringe van Andries wat hy altyd sal onthou. “Hy was ‘n baie uitspattige, maar nice mens en het ‘n goeie persoonlikheid gehad. Hy het gesê wat gesê moet word, en dit is hoekom almal so baie van hom gehou het,” dink hy terug.
Henly Botha, die voormalige streeksbestuurder van die kankervereniging (Kansa) aan die Weskus en wat destyds saam met Andries in die Malmesbury-kantoor gewerk het, beskryf hom as ‘n groot gees en ‘n karaktervolle mens wat ‘n groot toekoms gehad het.
“Hy het ‘n ongelooflike aanvoeling vir mense gehad. Hy was die gees in die kantoor; die kingpin waarom als gedraai het.”
Volgens haar was geen uitdaging of taak te groot nie. “Hy was bedagsaam, passievol en wou altyd leer.”
Sy dink terug oor die dag toe hulle mekaar in 2016 by die plaaslike Malmesbury-kantoor ontmoet het. “Almal het hom reeds geken toe hy die dag daar instap en hom kom voorstel.”
Andries het egter reeds gedurende sy skooldae by die Hoërskool Swartland as ‘n vrywilliger by Kansa betrokke geraak. Botha het vinnig sy gawe om met mense te werk, verhoudinge op te bou en geld vir die vereniging in te samel, raakgesien en hom by groot projekte soos die Kansa Relay betrek.
Sy het hom gedurende 2017 permanent as werwer aangestel. “Hy het so goed gedoen en was baie gelukkig. Ons het baie goed saamgewerk. Hy het graag gedurende ‘n lang dag vir my ‘n koppie tee gemaak. Dit breek my hart om te dink dat ons hom verloor het,” voeg sy by.
Andries het Kansa in 2022 verlaat, maar het volgens Botha met hulle in kontak gebly.
Cornel Coetzee beskryf Andries as meer as net ‘n vriend. “Jy was familie. Met ‘n seer hart sê ek totsiens. Elke herinnering, elke lag sal ek vir altyd koester. Rus sag, my dierbare vriend, jy sal altyd gemis, maar nooit vergeet word nie.”
Wessel Wessels, nog ‘n goeie vriend van Andries, som hom kort en kragtig op as ‘n “baie mooi mens met ‘n pragtige persoonlikheid”.
Volgens Wessels het Andries liefde uitgestraal.
Adele Janse van Rensburg meen hul vriendekring sal nooit weer dieselfde wees nie. “Hy het vinnig in ‘n mens se hart gekruip. Hy het altyd stories gehad om te deel, maar het ook altyd tyd gehad vir ander. Ek sal sy aansteeklike lag onthou. Ons gaan hom baie mis.”
Andries het die afgelope paar jaar Bakers Buzz Malmesbury in Piet Retiefstraat saam met sy ma bestuur. “Hy was my linker- en regterhand,” voeg sy by.
- Andries se gedenkdiens vind Donderdag 3 Julie om 11:00 by die Swartland NG Moeddergemeente plaas.

You must be logged in to post a comment.