‘n Wesbank speler trek ‘n Roses United-speler in die laaste Sanlam-Boland-Top-12-uitspeelwedstryd op die Wesbank-sportterrein plat. Foto: Reginald Afrikaner

David Rossouw

Nadat Roses United hul eerste nederlaag van die seisoen op verrassende wyse teen Botrivier gely het, het die span hul fokus verskuif na hul laaste wedstryd van die Sanlam-Boland-Top-12-reeks teen Wesbank, wat die afgelope Saterdag (8 November) op die Wesbank-sportterrein beslis is.

Die wedstryd is in versengende hitte in Malmesbury gespeel.

Roses het ‘n strafskop in die eerste minuut gekry en kantlyn toe geskop en daarna met ‘n rolmaalbeweging begin vanaf ‘n lynstaan wat hulle gewen het. Roses het eerste bloed geproe toe hul kaptein, El-shaun Davids, gedruk het. Xavier Solomon se doelskop was in die kol en die telling was 7-0 in Roses se guns.

Roses het met nog twee drieë geantwoord toe Chantler Davids en André Manuel gaan druk het. Solomon was weer in die kol met sy skoppe en die telling het tot 21-0 gestyg.

Sherwin Cupido van Wesbank het in die 20ste minuut ‘n geelkaart ontvang nadat hy ‘n Roses-speler van die verkeerde kant af gespeel het, wat hom 10 minute laat afkoel het. Met ‘n speler kort het Wesbank steeds daarin geslaag om punte op die telbord te plaas toe Jaydon Boltney hul eerste drie in die 24ste minuut gedruk het. Dashton Wellman se doelskop was mis en Wesbank was 21-5 agter.

LEES OOK: Wesbank eindig heel bo in Swartland-streek

Roses het egter voor rustyd nog twee drieë gaan druk, wat ook hul bonusdrie ingesluit en die voorsprong tot 28 punte vergroot het – met die telling nou 33-5.

Roses se kaptein El Shaun Davids vier een van sy twee drieë wat hy in die wedstryd gedruk het. Foto: Reginald Afrikaner

In die tweede helfte het Wesbank aansienlik beter gevaar en Roses vir groot dele van die tweede helfte onder druk geplaas. Ralton du Toit, Romeal Swartz en Mihle Nelani (2) het vier drieë vir Wesbank gedruk. Hoewel Wesbank vier drieë in die tweede helfte aangeteken het, was die agterstand te groot om in te haal. Roses kon slegs agt punte by hul totaal van 33 voeg, maar dit was genoeg om die wedstryd te beklink om tweede op die punteleer te eindig. Die uitslag was ook genoeg om hulle vir die halfeindstryd teen Robertson op Saterdag 15 November op die Boland Stadion in Wellington te laat kwalifiseer.

Vir Abbotsdale Lillies, die ander Swartland-span, het dinge nie volgens verwagtinge verloop nie. Hulle is ‘n tweede agtereenvolgende week met ‘n 50 gelooi deur Safcol United. Vir Denna Koopman en sy span was die 2025-Sanlam-Boland-Top-12 ‘n teleurstelling aangesien hulle nie aan die verwagtinge voldoen het nie. Nietemin kan hulle die ervaring wat hulle opgedoen het, gebruik om volgende jaar sterker terug te keer.

• Die Top 12-reeks het weer eens bewys dat alles oor geleenthede gaan en jy dit moet aangryp, want daar is nie weer ‘n tweede kans nie. Met die semi-finaliste nou bevestig, kan ondersteuners uitsien na ‘n opwindende afsluiting van die Boland-rugbyunie se seisoen, die Sanlam-Boland-Super 8, -10 en -16 en die Top-12.

Wedstrydbepalings vir Saterdag (15 November):

Robertson Town teen Roses United en Villagers Worcester teen Saldanhabaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article