Roses blom

Rugbyklubs was vir byna twee jaar in die rugbywoestyn, en dit het vir seker die gewenste uitwerking op baie klubs gehad. Die Wesbank SuperSpar Malmesbury 7’s-toernooi is die afgelope naweek in bloedige hitte beslis, maar dit het nie die rugby-honger


Rugbyklubs was vir byna twee jaar in die rugbywoestyn, en dit het vir seker die gewenste uitwerking op baie klubs gehad. Die Wesbank SuperSpar Malmesbury 7’s-toernooi is die afgelope naweek in bloedige hitte beslis, maar dit het nie die rugby-honger ondersteuners laat tuisbly nie.

Met 20 spanne wat om die gesogte titel en 10 om die uitdaagbeker-titel meeding, het Roses United van Wellington die bloedige hitte tot sy voordeel gebruik en skoonskip gemaak nadat die span met al twee titels weggestap het.

Die gasheer, wat die toeskouers van die hitte laat vergeet het, het egter in sy groepwedstryd teen die buiteperd Mamre vasgeval. Mamre het voortgebou op sy goeie vertonings in die korter weergawe van die spel en was ná die groepwedstryde een van net twee onoorwonne spanne en die gunsteling om met die goue medalje weg te stap.

Die groen truie het hulself egter in die kwarteindstryd teen die span van Roses laat verloor. Roses, wat die eerste sewe minute met die wind in die blad gespeel het, het gaan water drink met die telling 19-0. Mamre het kort voor rustyd egter verskeie kanse gehad om die agterstand te laat krimp, maar ongedwonge foute het hulle gekelder.

Met die wind in die gesig het die rose se dorings een-een afgeval en Mamre het die agterstand tot sewe punte laat krimp. Met twee minute se speeltyd oor het die span van Kenny Stadller verskeie kanse gehad om ’n oorwinning te verseker, maar kon nie die uitklophou plant nie en 12-19 vasgeval.

Wesbank het op sy beurt ook in die kwarteindstryd vasgeval. Die tuisspan het 7-21 teen Vineyards verloor. Strand, wat in die eindstryd teen Roses gespeel het, het eers Hillcrest 31-12 afgeransel en daarna sy plek in die eindstryd verseker met ’n 21-5-oorwinning oor Vineyards. Roses het ook sy plek verseker met ’n 7-5-oorwinning oor die verdedigende kampioen, St. Georges. Roses het Strand behoorlik laat klei trap en die titel met 17-7 beklink.

Roses se naasbestes het die uitdaagbeker met ’n 24-0-oorwinning oor Young Eagles verower. . Die melkboere bied dié naweek sy jaarlikse 7’s-toernooi in Darling aan.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.