Yzerfontein se langverwagte ontwikkelingsprojek om makliker toegang vir mense met gestremdhede na die strand te gee, is byna voltooi.
Volgens Tarina Steenkamp, een van die gemeenskapslede wat by die projek betrokke is, sal afrondingswerk aan die nuwe rolstoelvriendelike oprit heel waarskynlik hierdie week voltooi word. Ná die afronding voltooi is, sal die terrein opgeruim word en sal die oprit gereed vir gebruik wees.
Die konstruksieprojek behels die opknapping en verlenging van die bestaande oprit na die strand, wat oor die jare heen verweer het. Die oprit sal nie net maklike toegang vir mense met gebreke bied nie, maar ook vir bejaardes en mammas wat hul babas in stootwaentjies na die strand wil neem.
Steenkamp sê ’n amptelike bekendstelling van die oprit sal teen einde Maart gehou word en sal deur die donateurs wat die projek moontlik gemaak het, bygewoon word. Hulle sluit in die jong Charlie McNeil Wheatley en die tweeling, Annika en Chené Venter, wat elkeen aan ’n skaars vorm van serebrale Ataxia ly en die inspirasie agter die projek was.
Die R150 000, wat nodig was vir konstruksie van die oprit, is in Desember met ’n veiling ingesamel. Nie net het organiseerders die geskatte bedrag van ’n R150 000 vir die bou van die oprit oorskry nie, maar is baie konstruksiemateriaal ook geskenk.