Die Robertson-skou sal vanjaar, ná twee jaar, weer soos oudergewoonte voortgaan.
Die skou se komitee is tans besig om die skougronde op te knap en gereed te kry vir die naweek van 4 tot 8 Oktober, wanneer die skou sal plaasvind.
Neels Blom, ’n komiteelid, sê die gronde het egter in die afgelope twee jaar onder boewe deurgeloop wat die omheining weggedra het.
“Die mense het die plate van die omheining begin wegdra. Die publiek het begin kla dat dit onooglik is. Die munisipaliteit sou helfte van die geld gee om dit te herstel, maar daarvan het niks gekom nie. Ons het dit toe op onsself geneem om dit te begin regmaak. Die heining was ongeveer 100 of 120 jaar oud en moes in elk geval vervang word,” verduidelik Blom.
Die omheining is nou met voorafvervaardigde beton weer tot sy volle glorie herstel.
Voorts sê Blom die skou en die inkomste wat daaruit spruit is ’n goeie inspuiting vir die gemeenskap.
“Die hele gemeenskap kan baat vind daarby. Daar is baie toeriste wat spesiaal hierheen kom vir die skou en ook baie mense wat hierheen ry net om skou toe te kom.”
Die ander funksies wat met die skou gepaard gaan, sal ook in die komende maande plaasvind.
“Die kommandorit sal op 16 Julie plaasvind en die skoudans op 29 Julie.”
Sowat 200 perderuiters sal die kommandorit aandurf, waarna daar in die veld gebraai gaan word.
Volgens Blom is daar nog heelwat instandhoudingswerk wat by die gronde gedoen moet word voor die skounaweek in Oktober. Die komitee wil dus ’n beroep op die gemeenskap doen vir enige geldelike donasies. Vir meer inligting en bankbesonderhede kan Neels Blom by 082 894 2169 gekontak word.