Sedert ons vyf jaar gelede na Robertson verhuis het was ek al twee keer by die Robertson-hospitaal se ongevalle-eenheid en was albei kere bitter teleurgesteld in die diens.
My kind het een Saterdag ’n fietsongeluk gehad en weens die beserings het hy duidelik aan skok gely. Buiten dat sy lip oopgesny was, was daar skade aan sy gesig en hy kon skaars sy arms en hande beweeg. Ek het dadelik met hom na die hospitaal se ongevalle-eenheid gery.
Die sekuriteitsbeamptes aan diens was baie goed vir hom en het my gehelp om my kind uit die motor en in ’n rolstoel te kry. Die sekuriteit het vir my gesê hulle sal na hom omsien, ek moet solank ’n lêer vir hom gaan oopmaak.
Ek het by die kantoor gekom en paar keer geroep maar daar was niemand. Die skoonmaker in die gange het vir my gesê sy weet nie waar hulle is nie en dat ek maar solank na my kind toe moet gaan.
Ek het vyf verpleegsters in ’n kantoor gekry en vir hulle dieselfde vraag gevra – hulle het net gesê dat hulle ook nie weet nie en my ongevalle toe gestuur.
Ek is deur die ongevallekamer waar twee mense op ’n bed gelê het in ’n kamer waar daar ten minste vyf beddens is. Ek het twee verpleegsters gekry wat met mekaar gestaan en gesels het terwyl ’n kamer van vier rye banke vol mense gesit en wag het vir iemand om hulle te sien.
My kind het toe baie begin bewe en het taamlik deurmekaar gelyk. Een van die pasiënte wat gesit en wag het, het vir my gesê ek moet ’n kombers kry en my kind toemaak. Na 15 minute het die sekuriteitsmense vir my gesê om solank my kind se naam en ouderdom op ’n stukkie papier te skryf en dit in die mandjie te sit.
Na sowat vyf minute was daar nog meer lêers bo-op my stukkie papier geplaas en was niemand in die tyd wat ek daar was al ingeroep of gehelp nie.
Ek besluit toe om die dokter aan diens te skakel omdat ek ’n mediese fonds het en hy my dalk privaat kan sien. Ek het aan hom op die foon verduidelik wat met my kind gebeur het en sy eerste woorde was “nou wat wil jy hê moet ek daaraan doen?”
Ek het ook aan hom genoem dat my kind se arms seer is en die sny taamlik bloei, waarna hy vir my vra hoe ek hom gaan betaal. “Mediese fonds of gaan jy my kontant kan betaal?” Ek sê toe dat ek medies het en vra toe ook van X-strale, waarna ek ingelig is dat daar niemand X-strale op die dorp kan neem voor Maandag nie.
Die dokter aan diens sê toe dat ek hom maar by die spreekkamer kan ontmoet. Ek was so afgesit oor sy houding dat ek vir hom gesê het om dit maar te los en dat ek eerder sal deurry Worcester toe.
By Worcester MediClinic is my kind binne ’n halfuur gehelp waar hy baie goed ondersoek is en het twee steke in sy mond gekry en ’n inspuiting vir die pyn. Gelukkig was geen X-strale nodig nie, sy arms en gewrigte was net verstuit. Ons moes wel vier dae later gips aan sy arm sit.
Ek wil net graag vir die drie vroue en man wat my kind gehelp het langs die pad en my kom roep het baie dankie sê vir hulle hulp. Dit word opreg waardeer!
Jo-Ann Otto, woordvoerder van die gesondheidsdepartement se Kaapse Wynland-area reageer:
Weens die onvolledige inligting in die klagte kan die Wes-Kaapse departement van gesondheid by die Robertson-hospitaal dié ernstige klagte nie ondersoek nie.
Wanneer ’n klagte aanhangig gemaak word moet klante altyd hul eie of die pasiënt se besonderhede, kontakbesonderhede, sowel as die naam van die personeellid verskaf. Dít maak dit makliker om klagtes te ondersoek.
Die Robertson-hospitaal se bestuur nooi die klaer om ’n afspraak met dr. Luise Lunnon te maak sodat die klagte bespreek en opgelos kan word.
Die departement is verbind tot die verbetering van pasiënte se besoekervaring deur pasiënte se terugvoer aan te spreek, personeel se houding aan te pas en nuwe maniere te vind om gesondheidsorgdiens te lewer.
Dit is egter ook ’n feit dat ’n besoek aan die ongevalle-eenheid nooit beplan word nie en klante is dikwels bang en in pyn as hulle daar aankom, wat maklik die situasie vererger wanneer daar ’n wagperiode is of wat voorkom as vertraagde reaksie.
Pasiënte met ernstige, lewensbedreigende toestande geniet voorkeur en word eerste behandel.
Die klaer kan die hospitaal by 023 626 8501 skakel en met dr. Lunnon se sekretaresse praat om ’n afspraak te reël