Kinders van Riebeek-Wes maak muurskilderye op Riebeek-Wes Primêr se mure as deel van die RASA Loves Riebeek-kunsprojek.

Die strate van Riebeek-Wes bars uit hul nate van kuns, kleur en jong kunstenaars.

Dié vrolikheid heers danksy die “RASA Loves Riebeek”-inisiatief, wat sowat drie maande gelede daargestel is om vreugde en samehorigheid binne die gemeenskap deur middel van muurskilderywerk te bevorder.

Só sê RASA Art Connects, ‘n organisasie sonder winsbejag in die vallei, wat daarop gemik is om hoëgehalte onderrig in kuns na minder bevoorregte kinders te bring.

“Kuns het al herhaaldelik bewys dat dit ‘n kragtige hulpmiddel is om uitdagings aan te durf en genesing te bring. Die doel van hierdie projek – deur die buitemure van huise, skole en mure in beide die ‘bo-‘ en ‘onderdorp’ in skilderye om te skep – poog om ‘n dialoog binne die gemeenskap aan te wakker,” lui ‘n verklaring.

Plaaslike kinders van Riebeek-Wes geniet dit om die skool se mure met verskillende kleure te versier.

Die plaaslike organisasie, wat met kinders en kunstenaars werk, brei verder uit oor die projek en vertel dat die inisiatief die jeug, wat hul kuns- klasse bywoon, en kunstenaars soos Emma Willemse, Barbara Cilliers en Dieter Wüst, insluit. Hulle skep tans visueel dinamiese muurskilderye wat temas soos saamhorigheid en same- werking vier.

Die projek het amptelik by Riebeek-Wes Primêr afgeskop en ‘n hele paar huise se mure is al geverf, voeg Julita Kahn van RASA by.

“Die muurskilderye sal die lewens- ervaringe van die toekomstige geslag weerspieël namate hulle saam met die kunstenaars in ‘n span werk. Talle muurskilderye sal nog binne die volgende vier maande die lig sien,” vertel Kahn.

“Hierdie inisiatief beloof om trots te inspireer, betekenis te gee en ‘n sterker gemeenskapsgees te kweek,” brei RASA uit.

Die organisasie is verheug om te sien hoe kunstoerisme sy opwagting gemaak het en hoop dat dié muurskilderye nóg ‘n toeriste aantreklikheid binne die vallei sal word.

“Die projek sal later na Riebeek- Kasteel uitgerol word as deel van vanjaar se Solo Studios,” voeg Kahn by.

Een van die kinders wat kunsklasse by RASA Art Connect in Riebeek-Wes neem, geniet dit om huise se buitemure te verf as deel van die RSA Loves Riebeek-kunsprojek.

You need to be Logged In to leave a comment.