’n Skermgreep van die gewapende rooftog by die winkel in Riebeek-Kasteel, wat op sosiale media versprei is.


’n Plaaslike winkel in Riebeek-Kasteel het die afgelope week onder ’n gewapende rooftog deurgeloop.

Spoedige optrede en uitstekende samewerking deur lede van die plaaslike polisie, die publiek en die private sektor het tot die suksesvolle inhegtenisneming van dié verdagtes gelei.

Kamal Shop is die afgelope Woensdag omstreeks 11:24 beroof. Vyf mans, onderskeidelik Suid-Afrikaners en Zimbabwiërs, het verlede week op dié winkel in Angelierstraat toegesak en die eienaar, sy werkers en sy klante oorval.

Lede van die publiek het alarm gemaak en plaaslike owerhede is van die rooftog in kennis gestel. Volgens die stasiekommissaris van Riebeek-Wes-polisiekantoor, kapt. Pierre Burger, het die verdagtes, wat uit De Doorns kom, met hul eie voertuig, ’n Lexus, gevlug. Dit is in hierdie stadium nog onduidelik waarom die verdagtes in die eerste plek in Riebeek-Kasteel was.

Pakkies sigarette, R6 000 en ’n kaartmasjien is gesteel.

Danksy goeie kommunikasie deur die polisie, private veiligheidsmaatskappye en getuies kon vasgestel word waarheen die voertuig op pad was. Burger verduidelik die voertuig is onder meer deur nommerplaat-herkenningstegnologie (LPR) geïdentifiseer en vandaar deur personeel gemonitor.

Die voertuig met die insittendes is ná deurlopende kommunikasie ’n paar uur later in Worcester voorgekeer, waarna die verdagtes deur die polisie in hegtenis geneem is. Klagtes van die besit van onwettige vuurwapens asook die besit van gesteelde goedere is teen die verdagtes aangemeld.

Die verdagtes het Vrydag (20 Mei) in die Malmesbury-landdroshof verskyn en word steeds aangehou.

Die eienaar van die beroofde winkel, Kamal Pervez, is volgens die plaaslike polisie onder meer deur een van die rowers met ’n vuurwapen oor die kop geslaan. In ’n video wat tans die ronde op sosiale media doen, kan gesien word hoe ’n ander werknemer agter die toonbank herhaaldelik deur een van die rowers met ’n mes gesteek word. Die werknemer sterk goed aan.

Vier klante, wat ten tyde die voorval binne die winkel was, is ook deur die rowers aangeval. Elkeen van die slagoffers het mediese behandeling ontvang en is volgens Burger ongedeerd.

Pervez het Vrydag gesê die rooftog was ’n groot skok, maar hy is verlig niemand is te ernstig beseer nie.

Geen wapens is gedurende die rooftog afgevuur nie. Die polisie bedank alle rolspelers wat tot die suksesvolle inhegtenisnemings bygedra het.

You need to be Logged In to leave a comment.