‘n Reusesoektog is Vrydagmiddag (24 Julie) van stapel gestuur nadat 69 gevangenes omstreeks 12:15 uit die ou Malmesbury-tronk (medium B-gevangenis) ontsnap het.
Die gevangenes was almal verhoorafwagtend.
Volgens inligting is ‘n Hyundai-afleweringsvoertuig met ‘n Paarl-registrasienommer ook in die proses gekaap in ‘n poging van een van die gevangenes om te vlug. Die afleweringsvoertuig is by die laagbrug naby die Amandelrug-pad teruggevind.
Minstens 63 voortvlugtiges is teen Vrydagaand weer in hegtenis geneem, het Delekile Klaas, streekskommissaris vir die departement van korrektiewe dienste die middag op die toneel aan media bevestig. Teen Saterdagoggend is nog drie aangekeer. Beamptes van die polisie en korrektiewe dienste tesame met ‘n taakspan en sekerheidsgroepe soek steeds na die oorblywende drie voortvlugtiges. ‘n Helikopter is ook Vrydagmiddag ingespan om te help met die soektog.
Klaas het gesê korrektiewe dienste beamptes het ‘n oefensessie aan gevangenes aangebied toe hulle deur ‘n groep van hulle oorrompel is.
Hulle het die beamptes se sleutels afgevat en drie beamptes in ‘n tronksel toegesluit. Die voortvlugtiges het toe van die ander tronkselle oopgesluit. Hulle het deur die hoofingang en die dak ontsnap. Nege beamptes het ligte beserings opgedoen. Van die voortvlugtiges wat hulle teen arrestasie verset het, is ook beseer.
Die voortvlugtiges wat intussen weer in hegtenis geneem is sal nou na ander tronke buite Malmesbury uitgeplaas word. ‘n Aantal probleemmakers sal na ‘n maksimum-gevangenis in die streek oorgeplaas word.
Die departement het die voorval ten sterkste veroordeel. ‘n Ondersoek is ingestel.
Ten tye van die voorval was daar altesaam 451 gevangenes in die gevangenis met 20 beamptes aan diens.
Die publiek word versoek om nie self die voortvlugtiges te probeer vang nie, maar eerder lt.kol. Ntsethe van Malmesbury-polisie by 082 469 0975 of Jonathan Bredenkamp van die departement van korrektiewe dienste by 072 878 2685 te bel.
Intussen het die polisie ook die gemeenskap bedank vir hul hulp en samewerking wat daartoe gelei het dat meeste van die voortvlugtiges weer vasgetrek is.
*Die berig sal aangepas, soos inligting bevestig word.