Malmesbury se Hans Neethling saam met ‘n spanmaat, Mustapha Cassiem, met hul spandrag as lid van die Suid-Afrikaanse hokkiespan vir Oktober se Afrika-kampioenskapsreeks in Egipte.

Malmesbury se Hans Neethling is pas in die Suid-Afrikaanse manshokkiespan wat van 11 tot 18 Oktober aan die Afrika-kampioenskapsreeks sal deelneem, opgeneem. Die Afrika-span wat hierdie 11de Afrika-bekerbyeenkoms in Egipte wen, sal outomaties vir deelname aan volgende jaar se FIH-hokkie-wêreldbyeenkoms wat in België en Nederland beslis sal word, kwalifiseer.

Sedert Gazette in Maart oor Hans berig het as lid van die Suid-Afrikaanse binnenshuise hokkiespan wat brons by die wêreldhokkiebyeenkoms in Kroasië gewen het, het hy geensins stilgesit nie. Hy het twee maande gelede besluit om vir ‘n ander klub in Duitsland te teken.

“Ek sal die komende seisoen vir die ‘Deutscher Meister / German champions, Crefeld Hockey and Tennis Club speel. Dit is in die dorpie Krefeld, ongeveer 30 minute se ry van Düsseldorf af. Ons is reeds besig om vir die seisoen, wat in September begin, voor te berei.”

Hans Neethling
Hans Neethling in aksie op die hokkieveld.

Intussen is Hans ook vroeër vanjaar deur Cape Union Mart genader om ‘n ambassadeur vir hul K-Way ondersteuners-klerereeks te wees. Hierdie reeks is kort voordat die Springbokke in Junie hul wedstryde teen internasionale spanne begin het, bekendgestel.

“Die Gear For Glory-klerereeks is uitgebring om SA Rugby te ondersteun. “Ek het dit saam met die Protea-krieketlegende JP Duminy, Ntokozo Makhaze, die Varsity Cup-rugbyspeler met die hoogste punttelling nog, asook Jo Prins, voorheen ‘n SA netbalspeler, geniet.”

You need to be Logged In to leave a comment.