Groot belangstelling heers vir die CHOC-Bergrivierprojek met bydraes wat reeds uit alle oorde instroom.
Die projek vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar met die 21 deelnemers wat daardie broodnodige geld gaan insamel vir die Kinderkankerstigting van Suid-Afrika (CHOC). Die deelnemers het hul mikpunt op ’n uitdagende R300 000 gestel om daarmee die R4,5 miljoen merk verby te steek wat oor dié tydperk ingesamel is. Die Burger Kersfonds asook Kansa was in die verlede begunstigde organisasies van die geld. Die projek word ook deur Tygerberg 104fm en Curro Skole geborg.
Die manne spring Woensdagoggend 22 Julie om 10:00 met agt rubberbote by die Markstraatbrug in die Paarl weg na afloop van ’n kransleggingseremonie ter nagedagtenis aan oud-kolonel Bees Marais, die vlieënier wat onlangs met sy helikopter by Kaappunt neergestort het. Adv. Gesie van Deventer, die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, sal die spanne afsit op hulle eerste skof oor 25 km na Skooltjie, net buite Wellington. Hier word hulle ingewag deur leerders van die Bergrivier Primêre Skool waar opvoedkundige materiaal aan die bykans 120 leerders uitgedeel word.
Die geld wat oor die jare ingesamel is, is hoofsaaklik afkomstig van veilings wat by vier geleenthede langs die roete van die Bergrivier aangebied word. Dinsdagaand, 21 Julie, word ’n konsert en veiling in samewerking met die Drakenstein Sakekamer in die Paarl-stadsaal aangebied met die reisende kunstenaars Ghapi, Steyn Fourie en storieverteller Alan Hughes, wat as seremoniemeester sal optree. Rey Janse van Rensburg, wat bekendheid verwerf het met sy betrokkenheid by die kykNET-programme, Voetspore en Op Verre Roetes, reis van Springbok en neem aan sy vyfde projek deel en gaan die gaste vermaak met sy sêgoed in die Namakwalandse tradisie.
Die volgende aand word ’n soortgelyke konsert en veiling by die Allesverloren Wynlandgoed in Riebeek-Wes aangebied met die kunstenaars wat ook daar die gaste gaan vermaak met hul trefferliedjies en sêgoed. ’n Driegang maaltyd word aangebied en toegang beloop R130.
Donderdagaand, 23 Julie, word ’n konsert en veiling by Die Hut Restaurant in Moorreesburg aangebied wanneer ’n Johannesburg-gebaseerde maatskappy ’n driesyfer-bedrag aan die projekspan sal oorhandig, wat hul mikpunt ’n reuse-hupstoot sal gee. ’n Driegang maal word aangebied teen R120.
Ten einde ’n groter mate van bewustheid van dié siekte onder leerders te kweek, word ’n konsert en veiling Vrydagaand, 24 Julie, by die Curro skool op Langebaan aangebied en word gaste genooi om hul eie piekniekmandjies te bring. Toegang beloop R100 per persoon.
Die projek eindig Saterdagmiddag om 13:00 voor die Riviera Hotel op Velddrif. Die Sondagoggend woon die deelnemers die oggend erediens in die NG kerk Laaiplek by, wat waargeneem sal word deur dr. (pastoor) Ettiene Marais, wat aan sy 21ste projek deelneem.
Vir meer inligting bel Attie Laubscher, projekorganiseerder, by 083 427 2488 of stuur ’n e-pos na attie.bd@gmail.com. Lees meer oor CHOC by www.chog.org.za