Ray van Rooy ondervra

Die Bergrivier-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Ray van Rooy, is ure nadat hy die afgelope Woensdagaand by sy woning in Piketberg deur die polisie vir ondervraging ingeneem is, weer vrygelaat.


Die Bergrivier-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Ray van Rooy, is ure nadat hy die afgelope Woensdagaand by sy woning in Piketberg deur die polisie vir ondervraging ingeneem is, weer vrygelaat.

Matthew Sheldon, ’n munisipale woordvoerder, het aan Gazette se susterskoerant, Weslander, bevestig Van Rooy was Donderdag weer op sy pos by die munisipaliteit.

Na wat verneem word is Van Rooy Woensdagmiddag (11 Desember) deur die Piketberg-polisie ondervra met betrekking tot klagtes wat verband hou met vermeende dwelmhandel en die beweerde onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Geen verdere besonderhede hieroor is bekendgemaak nie.

Die munisipaliteit wou ook nie verder uitbrei nie en het bloot gesê hy “wag op verdere optrede deur die polisie”.

“Aangesien dit ’n regsaangeleentheid is, kan ons nie verdere kommentaar lewer nie.

“Die munisipaliteit bly daartoe verbind om ons gemeenskap te dien en altyd die hoogste standaarde van gedrag te verseker,” het Sheldon kort nadat die nuus bekend geword het, gesê.

Die nuus is met skok en ongeloof op sosiale media ontvang met die oorgrote meerderheid inwoners wat hul ondersteuning agter Van Rooy gegooi het en in sy onskuld glo.

Tot dusver kon net vasgestel word geen amptelike aanklagte is teen Van Rooy gebring nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.