Wêreld-vleilanddag is Woensdag 2 Februarie gevier en vir CapeNature was dit aan die vooraand van die verklaring van die Bergrivier-monding as ’n Ramsar-gebied.
Die tema vir vanjaar se Wêreld-vleilanddag was “Action for People and Nature”, wat die fokus op die belangrikheid van bewaring en die volhoubare gebruik van vleilande geplaas het.
Volgens CapeNature vorm die Bergrivier-monding deel van die Weskus se sleutel-bewaringsgebied. Die verklaring as Ramsar-gebied sal die plaaslike riviermonding nasionale en internasionale erkenning gee vanweë die gebied se ekologiese belangrikheid.
“Die bewaring van ekostelsels en spesies is afhanklik van die balans tussen varswater en seewater wat die riviermond binnedring. Tot nou is hierdie balans gehandhaaf, soveel so dat die algehele terrein erken is vir sy uitsonderlike waarde wat die ekostelsel en spesiediversiteit betref.
“Die Ramsar-erkenning is in werklikheid ’n wêreldwye erkenning hiervan,” verduidelik dr. Razeena Omar, CapeNature se uitvoerende hoof.
Die organisasie sê Wêreld-vleilanddag is ’n geleentheid vir gemeenskappe en vennote om saam die rol van die ekologiese stelsel te vier.
CapeNature meen inwoners en gemeenskapslede kan baie doen om die vleiland te help bewaar deur:
. Inheemse, plaaslike spesies te plant;
. nie rommel te strooi nie en om rommel wat rondlê, op te ruim;
. herwinbare produkte te gebruik;
. om nie inheemse plante en diere te beskadig of te versteur nie;
. deur water spaarsamig te gebruik; en
. om as ambassadeurs vir ’n vleiland op te tree.