R3milj- aanleg is wel op pad

Plaaslike inwoners, sakelui en ander belangegroepe in die Riebeekvallei het onlangs hul misnoeë teenoor die plaaslike PPC-sementaanleg uitgespreek weens ’n gebrek aan inligting rakende die R3 miljard se nuwe ontwikkeling wat glo eersdaags gebou gaan


Plaaslike inwoners, sakelui en ander belangegroepe in die Riebeekvallei het onlangs hul misnoeë teenoor die plaaslike PPC-sementaanleg uitgespreek weens ’n gebrek aan inligting rakende die R3 miljard se nuwe ontwikkeling wat glo eersdaags gebou gaan word.

Die bestaande sementaanleg aan die buitewyke van Riebeek-Wes het op 16?Januarie vanjaar ’n Memorandum van Ooreenkoms (MOU) met die ingenieursgroep Sinoma Overseas-ontwikkelings- maatskappy vir die bou van die nuwe aanleg in die Wes-Kaap onderteken.

Inwoners en belangegroepe wat sedert 2007 by die omgewingsimpakassesseringsproses betrokke was, is van mening dat die sementreus nie oop kaarte met die plaaslike gemeenskap speel nie.

’n Omgewingsforum in samewerking met die Riebeekvallei-belastingbetalers- vereniging (RVRA) is destyds op die been gebring om belangegroepe betrokke by die proses te verteenwoordig. Volgens Basil Friedlander, wat al vir byna drie dekades in Riebeek-Wes woon, is hul grootste bekommernis die uitwerking wat die bou van die nuwe aanleg op die vallei gaan hê. “Ons het as groep probeer om seker te maak dat enige ontwikkeling deur PPC op so ’n wyse gedoen sou word dat dit so min as moontlik invloed het op die rolspelers en belanghebbendes het.”

Volgens Friedlander is ’n vergadering boonop ook met die hoofbestuurder van die plaaslike tak aangevra, wat nog nie plaasgevind het nie. Luidens e-pos-terugvoer aan Friedlander as ondervoorsitter van die RVRA op 29 Januarie, het die maatskappy bevestig dat hy nog aan die beginfase van beplanning is en binnekort met die plaaslike gemeenskap in aanraking sal kom om meer besonderhede oor die projek te deel. Inwoners beweer egter die aankondiging op 16 Januarie – dat bouwerk in die tweede kwartaal van die jaar begin, in stryd is met wat aan hulle kommunikeer is. “Hulle het misluk om suksesvol met die plaaslike rolspelers en gemeenskap te kommunikeer en presies te sê wat beplan word.”

Die forum is van mening dat dit ’n massiewe ontwikkeling is wat ’n beduidende invloed op die sosio-ekonomiese en omgewingsaspekte van die vallei gaan hê. “Ons wil basies weet wat beplan word, hoe die vervoer van boumateriaal en goedere vir konstruksie gaan werk, wanneer die aanleg open, werkskepping, tydelike behuising en of die projek steeds aan die oorspronklike OIA voldoen.”

Die nuwe aanleg sal volgens inligting op hul webblad die kapasiteit hê om 1.5 miljoen ton sement per jaar te produseer. Die ontwikkeling sal voortaan ook die bestaande aanleg vervang en PPC se kapasiteit verhoog. Produksie sal stelselmatig by hul twee aanlegte in die Wes-Kaap gestaak word sodra die nuwe aanleg in werking tree. PPC sien daarna uit om die nuwe aanleg met die nuutste tegnologie toe te rus, wat onder meer sy eie sonkragopwekking sal insluit, wat tot laer koolstofuitlate sal bydra. Dit sal ’n betekenisvolle bydrae tot laer produksiekostes lewer en PPC meer mededingend en winsgewend maak.

PPC se uitvoerende hoof, Matias Cardarelli, het gesê Suid-Afrika se veranderende sementmark verlang dringend meer moderne en koste-doeltreffende bates asook omgewingsbewuste produsente.

Die datum wanneer bouwerk amptelik begin, is steeds onderhewig aan goedkeuring deur die raad van PPC, maar hulle hoop om binnekort in die tweede kwartaal van vanjaar te begin.

You need to be Logged In to leave a comment.