Lede van Friesco met van die begunstigdes van die organisasie se toiletware-projek.


’n Projek om na die sanitêre behoeftes van kinders van gemeenskappe in Strand om te sien, is suksesvol met die oorhandiging van toiletware-pakkies afgesluit.

Sowat 170 jeugdiges van Broadlandspark, Gustrouw, Sercorpark en Casablanca was verlede Maandag (21 Maart) die begunstigdes van die toiletware-projek wat deur die Friends Serving the Community-organisasie (Friesco) van stapel gestuur is. Elke kind het, danksy die goedhartigheid van skenkers en lede van Friesco, ’n pakkie vol broodnodige toiletware ontvang.

Volgens Gavin James, een van die stigters van Friesco, het hulle die nood onder veral meisies van hierdie gemeenskap, wat in hul menstruele siklus weens ’n tekort aan sanitêre doekies by die huis bly en belangrike skooldae misloop, raakgesien. “Seuns én meisies sukkel daagliks omdat hul ouers nie toiletware kan bekostig nie,” het hy verduidelik en bygevoeg dat die kinders steeds gewillig is om skool by te woon.

“Ondanks hulle omstandighede is die kinders baie ywerig en gewillig om skool by te woon, daarom was ons genoodsaak om die projek te begin om van hulp vir die kinders te wees.”

Friesco is net voor die staat van inperking deur ’n groep vriende op die been gebring. Dié groep, wat in die Gustrouw-gebied grootgeword het, het ’n sopkombuis ingerig en deur die grendeltyd hul pogings verskerp aangesien baie inwoners in dié tyd nie brood op die tafel kon sit nie.

’n Kers-projek is verlede Desember gehou, gevolg deur ’n Terug-skool-toe-projek in Januarie, waar skryfbehoeftes aan die kinders van Gustrouw en Broadlandspark uitgedeel is (“Organisasie help kinders in nood”, Helderberg Gazette, 18 Januarie). Ná afloop van dié suksesvolle projekte het die Friesco-lede onmiddellik ingespring en skenkings vir die toiletware-projek begin werf.

James het gesê elke kind in die 11- tot 18-jarige ouderdomsgroep het ’n pakkie met sanitêre doekies (meisies), tandepasta, seep, deodorant en lyfroom ontvang. “Die Friesco-lede het die produkte meestal uit ons eie sakke gekoop, maar ons het ook ’n skenking van wonderlike mense en ’n instansie ontvang,” het hy vertel. “Ons wil Hendrik en Lucille Lubbe, asook die Easy to Learn Educare in Gordonsbaai, graag bedank vir hul bydraes wat tot die sukses van die projek bygedra het.”

Die organisasie hou elke tweede Saterdag ’n sopkombuis vir kinders in Broadlandspark, Gustrouw, Sercorpark en Casablanca, onder andere, en verwelkom enige skenkings om honger magies in dié gemeenskappe te vul. Lede is reeds volstoom besig om ’n winterprojek vir bejaardes te beplan, waarvoor hulle komberse en warm klere wil insamel. . Mense wat Friesco se projekte wil ondersteun of nog inligting benodig, kan ’n WhatsApp-boodskap na 071 614 0012 stuur of Friesco by 079 927 3333 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.