Dis weer die tyd van die jaar dat deurlopende harde werk vereer word.

Prysuitdelings, rugby-bekeruitdelings en uitmuntende prestasies maak ons trots op ons mense. Selfs wanneer ons spanne naelskraap nié wen nie, is ons nog steeds trots omdat hulle juis so naby gekom het. Wesbank se byna-wen van die Boland-rugbyunie se Groot Uitdaagliga en die Springbokke wat tot die semi-finaal van die rugbywêreldbeker gevorder het, maak ons trots.

Daar is natuurlik baie ander prestasies wat ons nooit van hoor nie of wat nie ’n gemeenskapskoerant of ’n vooraanstaande dagblad haal nie. Dalk presteer ’n leerder by ’n landelike skooltjie wat half weggesteek langs ’n grondpad geleë is. Wat van die vrou wat as volwassene haar matrieksertifikaat verwerf?

Daar is ook inwoners wat nie noodwendig in sport, kultuur of akademies presteer nie, maar wie se daaglikse dissipline en uithouvermoë ’n trofee werd is.

In hierdie kategorie is mense soos enkelouers en mense wat in die aangesig van geweldige uitdagings elke dag werk toe gaan om op ’n eerlike manier vir sy of haar familie te sorg.

Sommige mense sal redeneer dat laasgenoemde iemand se plig is en nie noodwendig ’n prestasie nie, maar sommige mense se omstandighede is van so ’n aard dat dit wél as prestasie geag kan word.

Daar is baie talentvolle mense in die streek en dit is goed en reg dat hulle vir hul prestasies vereer word. Laat ons ook nie van ons mede-inwoners vergeet wat in die stilligheid elke dag presteer en berge versit nie

You need to be Logged In to leave a comment.