Poskantoor gebuit, polisie wakker

Nege verdagtes is gisteroggend (Maandag) deur op en wakker polisiebeamptes in Malmesbury vasgetrek ná hulle die poskantoor in Ilingelethu beroof het.



Nege verdagtes is gisteroggend (Maandag) deur op en wakker polisiebeamptes in Malmesbury vasgetrek ná hulle die poskantoor in Ilingelethu beroof het.

Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, het drie verdagtes kort voor 08:00 die poskantoor binnegaan. Twee van die verdagtes was gewapen. Hulle het ’n sekerheidswag en die poskantoorbestuurder met die wapens gedreig en kontant geëis. Die verdagtes het daarna in ’n voertuig met ’n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug. Lede van Malmesbury-polisie het op die klagte gereageer en ’n voertuig opgemerk wat pas by die beskrywing van dié een wat van die toneel af gevlug het.

Hulle het die voertuig, ’n Toyota Quantum, agternagesit. ’n Hoëspoedjaagtog het gevolg, maar die lede kon daarin slaag om te keer dat die voertuig wegkom. Altesaam nege verdagtes, wat in die Quantum was, is in hegtenis geneem. Die mans is tussen 29 en 40 jaar oud.

Die polisie het ook beslag gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens – ’n Norinco-pistool en ’n .38-rewolwer, tesame met ammunisie. Die kontant is ook teruggekry. Die verdagtes sal na verwagting later die week in die Malmesbury-landdroshof verskyn. 
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.