Porterville ruim nog op

Die Bergrivier-munisipaliteit moes verlede Dinsdag (8 April) bontstaan om inwoners van Porterville by te staan nadat die Bergrivier, wat daar naby vloei, sy walle ná ‘n wolkbreuk oorstroom het.


Die Bergrivier-munisipaliteit moes verlede Dinsdag (8 April) bontstaan om inwoners van Porterville by te staan nadat die Bergrivier, wat daar naby vloei, sy walle ná ‘n wolkbreuk oorstroom het.

Mario Wessels, die onderburgemeester, sê sowat 120 mm reën het binne ‘n uur geval. Die hele Voortrekkerstraat, die dorp se hoofstraat, is oorstroom en motors het uit verskillende rigtings in lang rye opgedam.

Wessels sê ook die munisipaliteit het Dinsdag reeds met skoonmaakwerk in dié dorp aan die voet van die Olifantsrivier- berge begin.

Die omvang van die skade sou nog bepaal word “Skoonmaakbedrywighede sal oor die volgende paar dae voortduur om te verseker dat alle dienste ten volle werk,” het die munisipaliteit vroeër in ‘n verklaring gesê.

Volgens die Porterville- ontspanningsfasiliteit, ‘n organi- sasie sonder wingoogmerk, was die oorstromings “erger as die orkaan” wat hul gebou se dak ‘n jaar gelede afgewaai het.

“As ons terugkyk, was die orkaan niks in vergelyking hiermee [die oorstroming] nie.

“Gister [Dinsdag 8 April] het die hemel oopgegaan en ons het in ‘n kort tydjie ‘n uiterste volume water ervaar, wat veroorsaak het dat die rivier sy walle oorstroom het en die gevolge is verwoestend,” lui ‘n inskrywing op hul Facebook-blad.

“Ons het die swaarste daarvan gekry aangesien ons op die rivier en by die laagste punt van die skouterrein is. Ons heinings is af en ons speelterrein het weggespoel.”

Die munisipaliteit het almal bedank wat gehelp het met die skoonmakery en om hulpbronne soos kos, matrasse en warm komberse vir die inwoners wat die ergste geraak is, te verskaf.

Vergaderings oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan wat vir Woensdag en Donderdag 9 en 10 April beplan is, moes gekanselleer word.

Charlotte Lesch berig sommige landbouers het op hul beurt matige tot erge verspoe- lings op hul lande ervaar.

Volgens die graanprodusent Hanro Knoetzen van Porterville, het lande plek-plek redelik erg

verspoel. “Die gebiede wat verlede jaar ook verspoel het en intussen reggemaak is, het weer skade gely.”

Knoetzen sê egter hulle is dankbaar dat daar nog sowat twee weke oor is om die verspoelde gebiede te herstel voordat koring geplant word. Hulle het 110 mm reën binne 24 uur gekry, waarvan 90 mm binne sowat ‘n uur geval het. Knoetzen sê hul damme het ook binne 24 uur volgereën – iets wat grootliks eers in Augustus gesien word.

Verlede jaar se swaar reën het rondom 6 Junie plaasgevind waartydens 110 mm reën oor drie dae geval het.

“Ons kon nie toe die lande herstel nie.”

Stoffel du Plessis van die plaas Uitvlug teen die berg sê sy plase het enorme skade gely nadat 160 mm reën binne ‘n uur uitgesak het.

Die dorp het 120 mm reën in daardie tydperk ontvang.

Sy plaas het boonop ook die dorp se water gekry wat in sy plaas se rigting gevloei het. Die swaar reën het veroorsaak dat van sy wingerde uitgespoel het en slote in sy lande gevorm is.

Boere en werkers het die res van die week slegs tyd aan herstelwerk gewei, sê hy.

Twee inwoners stoei om deur die sterk vloeiende water in ‘n perseel in te kom.
Die water het tydens die oorstroming diep gestaan.
Kantoorpersoneel moes op Dinsdag 8 April en Woensdag 9 April skoonmaak om die skade wat deur die vloed veroorsaak is, te probeer ongedaan maak.
kantooroorstroom
‘n Gang lyk meer soos ‘n stroompie tydens die oorstroming.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.