Goedgedacht Trust het onlangs die toekoms van sy plaaslike jeug gevier deur twee spesiale opedae by hul Path On To Prosperity (POP)-jeugsentrums op Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel aan te bied.
’n Nuwe begin, gemeenskaplike samesyn en die kweek van nuwe verhoudinge en die koester van bestaande verhoudinge was aan die orde van die dag gedurende beide opedae by die Riebeek-Wes POP-jeugsentrum en die Riebeek-Kasteel POP-jeugsentrum.
Die opedag by Riebeek-Wes se sentrum is as inspirerend bestempel nadat 22 gaste van verskeie sektore, insluitend lede van Riebeekvallei Rotariërs, die departement van maatskaplike werke, die Wes-Kaapse regering, die Swartland-munisipaliteit, plaaslike toerisme en die Riebeekvallei Spesiale Skool die geleentheid vervolmaak het. Verteenwoordigers van dié POP-sentrum se vennoot en borg die afgelope 12 jaar, naamlik die Help The Rural Child (HTRC), was ook daar om die geleentheid te vier.
Gesprekke gedurende die dag is gekenmerk deur die programme wat deur die sentrums aangebied word en doelwitte wat tot dusver deur die programme bereik is.
Statistiek Suid-Afrika se adjunk-direkteur-generaal, Ashwell Jenneker het onder meer sy volgehoue toewyding saam met ander instansies gedurende die opedag beloof.
Die trust is veral opgewonde oor die inisiatief geopper rakende ’n gemeenskapstuin of kwekery wat ’n waardevolle uitwerking op die breër gemeenskap sal hê.
Nog ’n hoogtepunt was die heropening van hul leeskamer, wat amptelik deur Nicky Antonie, direkteur van Help The Rural Child, behartig is.
“Ons is baie dankbaar teenoor HTRC vir hul ruim skenking van boeke, asook aan die studente van die Verenigde Koninkryk wie se bydrae net betyds gekom het om ons leeskamer na groter hoogtes te neem,” sê die trust se Nadia Zwaan, bemarker en bestuurder van geldinsamelings, wat op haar beurt die inisiatief “Beads of Hope”, wat hoop vir die toekoms simboliseer, bekendgestel het.
Die opedag van Riebeek-Kasteel se POP-jeugsentrum het altesaam 21 gaste van verskeie sektore verwelkom, insluitend verteenwoordigers van PPC Cement, Meiring Primêr, Agri Mark, die departement van maatskaplike werke, Pick ’n Pay Riebeek-Wes en vrywilligers, wat bydraes lewer tot die ontwikkeling van waardevolle vaardighede by die jeug.
Elizma Titus-Louw, die gemeenskapsontwikkelingsbeampte vir jeug by die Swartland-munisipaliteit en wat die geleentheid bygewoon het, het die werk wat deur Goedegedacht Trust gedoen word en die belangrikheid daarvan beklemtoon deur uit te wys hoe die jeug deur die programme met lewensveranderende geleenthede in aanraking kom.
Johnwell Steve, die nuwe koördineerder van die POP-sentrum, het ook sy eie persoonlike reis met POP, wat hy as ’n kind ervaar het, met gaste gedeel.
Steve het gedurende die geleentheid sy visie van ’n blink toekoms by die sentrum ter tafel gelê deur te vertel hoe kuns en tegnologie wat kombineer word, ’n groot verskil tot die voortbestaan van die sentrums kan maak.
“Saam skep ons ’n veilige ruimte waar ons jeug groot kan droom, meer kan bereik en die toekoms met selfvertroue kan ingaan.”
Volgens die besturende direkteur, dr. Deon Snyman, was die opedae ongelooflike geleenthede om die wonderlike werk wat deur Goedgedacht Trust gedoen word, ten toon te stel.
“Die terugvoering vanuit die plaaslike gemeenskap was oorweldigend met baie wat vertel het hoe die programme hulle help.
“Dit was hartroerend om die waardering van mense te sien wat hulself tot volgehoue vennootskappe met Goedgedacht verbind.”