Pop babbel gladdebek

“Neem tannie my ook af? Gaan ons ook in die koerant verskyn?” hoor ek iemand agter my sê terwyl ek by ’n geleentheid foto’s neem.


“Neem tannie my ook af? Gaan ons ook in die koerant verskyn?” hoor ek iemand agter my sê terwyl ek by ’n geleentheid foto’s neem.

Met die omdraai volg ’n stem: “Ek is Peaches.” En onmiddellik besef ek iets bisar is aan die gang – ek hoor die stem, maar die kind wat my in die gesig staar in opgewonde op ’n antwoord, se lippe beweeg nie.

Ah-ha, gloeilamp-oomblik! Dis ’n meisietjie wat met bewonderenswaardige buikspraak-vaardighede dit laat lyk asof die harige, kleurvolle pop op haar heup die praatwerk doen.

Die marionet, Peaches, is ’n parmantige 11-jarige karakter wat deur die talentvolle jong buikspreker Mienke Hattingh opgetower is en moeiteloos lewe kry.

Sherryl Hattingh, Mienke se ma, sê haar dogter is aan die begin van verlede jaar deur jong buikspreker Darci Lynne se oudisie op America’s Got Talent geïnspireer om die kuns op te neem. Mienke het met baie oefen en deur voorbeelde van ander buiksprekers te volg, die basiese beginsels van buiksprekery – ’n gewilde vorm van vermaak sedert die 18de eeu – bemeester.

Op die vraag of sy lesse neem of op dié gebied afgerig word, het Mienke se ma verklap sy het die vaardigheid met navorsing wat sy self gedoen het, aangeleer. “Mienke het van kleins af al van drama gehou en om karakters te skep,” vertel Sherryl.

Só is Peaches gebore, en met Mienke se verjaardaggeld aanlyn gekoop. Peaches is ’n neon-oranje meisie-pop wat vinnig die jongeling se vennoot – nee skaduwee – geword het en gaan oral saam met haar.

Sherryl verduidelik Peaches is baie nuuskierig en wil niks misloop nie. Sy is ’n diva wat van blinkgoed hou; glo sy is slim; is dikwels baasspelerig en hou baie van praat, want mense is haar gunsteling – amper nes Mienke, wat vreugdevol, gelukkig en energiek is, sowel as ’n kreatiewe kind wat haar drome onverpoos nastreef en omgee vir ander kinders.

“Die skynbare drama queen gee Mienke baie meer vrymoedigheid om haar passie vir toneelspel en sang uit te leef. Sy leef deur die karakter se persoonlikheid haar hart en unieke persoonlikheid, asook die positiewe dinge van die lewe, uit. Dít maak haar sielsgelukkig.”

Volgens Sherryl is Mienke die eerste kind in die geskiedenis van Laerskool Lochnerhof wat buikspraak beoefen. Mienke en Peaches is glo ook baie gewild onder skoolpersoneel en medeleerders wat die geleentheid gehad het om die paartjie by ’n koor en ser-oudisie te ontmoet.

“Sy het Peaches aan haar kultuuronderwyser voorgestel, en sy was só beïndruk en dol oor Peaches en Mienke,” vertel die trotse ouer.

Mienke slyp gereeld haar vaardighede deur Peaches deel van haar daaglikse aktiwiteite en lewe te maak en saam by maats te gaan speel. Peaches leer by Mama Mia Studio selfs om naaldwerk te doen en is deel van die kultuur-uur by dié skool waar sy daaglikse aanlyn klasse van 30 minute volg en oefen.

Mienke se buikspraak-droom is om haar eie storielyn en aanlyn vertonings met ’n hele string familie-karakters te begin om ander gelukkig te maak en te laat lag. Sy put inspirasie uit haar ouers, Paul en Sherryl, haar boetie, Daniel en natuurlik Darci Lynne.

Enigiemand wat wonder wat ’n vertoning met Mienke en Peaches behels, kan uitsien na lagwekkende sang en dialoog tussen dié twee “boesemvriende”.

Mienke en Peaches se boodskap aan ander wat buiksprekery nastreef: “Moenie opgee op jou droom nie. Kry ’n handpop, wees geduldig, oefen, oefen en oefen, en begin die karakter uit te leef.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.