’n Polisieman van Bonnievale het ná 36 jaar as polisieman afgetree, in dieselfde dorp as waar hy sy eerste dag as polisieman begin werk het.

Ao. Francois Niemand het op 31 Januarie vanjaar vir die laaste keer sy uniform aangetrek, ná altesaam 36 jaar in die polisiediens.

Niemand beskryf dit as onwerklik omdat mense nie meer baie lank in enige beroep bly nie. Hy vertel toe hy op 1 April 1986 as polisieman by Bonnievale instap, was dit baie moeilik.

“Ek het aangesluit toe dit nog apartheid was. Dit was maar baie moeilik in daardie tyd. Ek onthou dat ons mense van kleur nie ’n patrollievoertuig kon ry nie, ons het meestal voetpatrollie gedoen,” vertel hy.

Iets waarop Niemand klem lê oor sy beginjare, is dat daar dissipline was en dat almal respek getoon het. Volgens hom is dit nie vandag meer die geval nie. Hy noem dat, wanneer hy terugdink aan al die jare dat hy in die polisiemag deurgebring het, kan hy net dankbaar wees.

“Ek het begin as ’n gewone polisiebeampte. Ek het ook later in Johannesburg gewerk en in Worcester en daarna is ek weer Bonnievale toe waar ek nou afgetree het as bevelvoerder van die eenheid vir sigbare polisiëring,” sê Niemand.

Hy vertel dat die beste jare van sy loopbaan in Bonnievale was en dat daar niks beter is as om diens te verrig aan jou eie gemeenskap nie.

Niemand sê hy het presies geweet wat elkeen se probleem in die gebied is en noem dat hy die mense persoonlik geken het.

“Ons het wedersydse respek gehad vir mekaar as gemeenskap en polisie.”

Een van die gebeure wat vir hom uitstaan oor sy jare as polisieman, is ’n ongeluk jare gelede, waar hy op die toneel was en waarin drie persone dood en nege beseer is.

“Dit was hartseer, want daar was twee moeders met babatjies op hul sye. Die bloed het by hul gesigte afgeloop en ek kon hulle nie ordentlik help nie. Dis die goed wat ’n mens nie kan vergeet nie.”

Niemand sê hy gaan sy span baie mis en dat hy na hulle verwys het as sy kinders, omdat hy die oudste én die langsdienende beampte is.

“Hulle het my pa genoem en ons was ’n baie gehegte span. Ek gaan hulle regtig mis. Toe hulle die brief sien op 20 Januarie dat ek gaan aftree, kon hulle dit nie glo nie. Een kollega het gesê: ‘Pa, jy gaan nou regtig weg van ons af.’ Dit was een van my hartseerste tye, om totsiens te sê vir mense saam met wie ek so ’n lang pad gestap het.”

Hy voeg by dat sy boodskap aan hulle was om altyd hul gemeenskap te dien, dan sal hulle sukses behaal. Hulle kom loer nog daagliks by hom in sedert sy aftrede.

Hy lag as hy verduidelik dat hy gewoond sal moet raak om nie meer op te staan vir werk nie.

You need to be Logged In to leave a comment.