Die polisieman wat na bewering sy vriendin, Natasha Booise (32), op tweede Nuwejaar koelbloedig voor haar seun in Piketberg se hoofstraat doodgeskiet het, is ’n veroordeelde misdadiger.
Dié skokonthullings is Donderdag 24 Februarie deur die staat tydens die verdagte se borgtogaansoek gemaak.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, is sers. Richard Smit, wat na wat verneem word intussen uit die polisie geskors is, in 2015 skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer toe hy Hogan Henry in die linkerrib gesteek het. Die verdagte is daarna in die Malmesbury-streekhof tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis en was in huisarres.
Smit is drie jaar later weer in dieselfde hof met R1 500 beboet nadat hy weer ’n man aangerand het. Die verdagte het ook ’n R3 000-boete gekry nadat hy die padverkeerreëls oortree en hom teëgesit het toe amptenare hom in hegtenis wou neem.
Ntabazalila sê die verdagte se oorlede pa het in 2013 om ’n beskermingsbevel aansoek gedoen nadat sy seun glo sy pa met sy dienspistool gedreig het. Die aansoek is teruggetrek, maar die polisie het die verdagte ongeskik bevind om ’n vuurwapen te dra en sy vuurwapen is vir vyf jaar weggeneem.
’n Dienspistool is weer in 2020 aan die verdagte uitgereik nadat hy vertoë gerig het. Dit is blykbaar dieselfde vuurwapen wat in die moord op Booise gebruik is.
Smit se borgtogaansoek is tot Dinsdag 15 Maart uitgestel.