Polisie reik só uit na slagoffers

Die meeste inwoners is blykbaar nie eens bewus van die slagoffer-ondersteuningskamer by die Montagu-polisiekantoor nie.


MONTAGU – Die oorgrote meerderheid van Montagu se gemeenskap is blykbaar nie eens bewus van die bestaan van die slagoffer-ondersteunings-kamer by die plaaslike polisiekantoor nie.

Dit is die mening van konst. Esmarelda de Koker, sosiale misdaadbeampte van die Montagu polisiekantoor.

De Koker is ook aangestel as die stasie se slagofferbemagtigings-koördineerder. Dit beteken sy is verantwoordelik vir die implementering, koördinering en bestuur van sake wat verband hou met slagoffers van misdaad in Montagu se gebied.

“Die bestuur en optimale gebruik van die victim empowerment room is deel van my werksverpligtinge. Ek wil graag hê mense – veral misdaadslagoffers – moet gebruik maak daarvan vir hulp en ondersteuning wanneer hulle ’n traumatiese ervaring met misdaad probeer verwerk,” sê De Koker.

Sy benadruk die slagofferondersteuningskamer is daar vir die gemeenskap en om misdaadslagoffers, -oorlewendes en hul families by te staan.

“Die doel van die traumakamer is om ondersteuning te bied aan slagoffers en oorlewendes van misdaad en geweld en ook om die betrokke families te help om die impak wat hierdie traumatiese voorvalle op hul lewe kan hê, te verwerk,” verduidelik die vriendelike polisiebeampte.

Die traumakamer hanteer ook alle gevalle van viktimisering, soos geweld teen vroue, kinders, bejaardes en mense met gestremdhede sowel as huishoudelike en seksuele mishandeling, mensehandel en gevalle van vreemdelingehaat (xenofobie).

Volgens De Koker hou die polisiekantoor gereeld bewusmakingsveldtogte om die gemeenskap, vroue en kinders oor slagofferbemagtiging, huishoudelike geweld, geslagsgebaseerde geweld en soortgelyke misdaad op te voed.

De Koker nooi gemeenskapslede uit om te kom help en deel van die slagofferbemagtigingsprogram te word. Hulle moet egter aan sekere vereistes voldoen, soos: jy moet ’n sterk begeerte koester om jou gemeenskap te help en dien; jy mag geen misdaadrekord hê nie; jy moet in die polisiëringsgebied van Montagu woon; jy moet goed met mense oor die weg kom en jy moet veral na-ure en ook oor naweke beskikbaar wees.

“Enige ondervinding in berading en ondersteuning sal ’n groot pluspunt wees,” sluit De Koker af. .Kontak De Koker by 023 614 8313 of 079 021 9289 vir nog inligting.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.