Verskeie mense het die afgelope week hul rieme styfgeloop nadat hulle in die lang arm van die gereg vasgeloop het.Malmesbury. Een verdagte is Sondagoggend (27 Maart) in hegtenis geneem toe hy deur polisiebeamptes op patrollie voorgekeer is. Hy het ’n rugsak by hom gehad. Die polisie het by hom stilgehou, die rugsak deurgesoek en op 10 sakkies dagga afgekom het. Die verdagte sou na verwagting gister (28 Maart) in die Malmesbury-landdroshof op aanklag van die besit van dagga verskyn.. In nog ’n voorval Sondagoggend het polisiebeamptes ook patrolliediens in die Wesbank-woongebied verrig toe hulle ’n oproep ontvang van ’n lid van die publiek oor iemand in besit van ’n vuurwapen. Die inwoner kon ’n beskrywing van die voertuig gee waarin die verdagte laas gesien is. Die voertuig is voorgekeer en deurgesoek en ’n vuurwapen is agter die sitplek gekry. Die minderjarige, wat die voertuig bestuur het, kon nie ’n verduideliking gee oor aan wie die vuurwapen behoort nie. Niemand is in die betrokke voorval in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort.Moorreesburg. Polisiebeamptes van die Moorreesburg-polisie het Sondag 20 Maart ’n lasbrief by Sibanye Square uitgevoer, waar hulle op 68 bottels drank en twee luidsprekers beslag gelê het. ’n 44-jarige vrou is in hegtenis geneem en het reeds in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.. Agt palette ter waarde van R940 is Maandag 22 Maart in Akkerboomstraat, Fairview, gesteel. Met verdere ondersoek het die polisie ’n 43-jarige verdagte weens diefstal in hegtenis geneem. Die verdagte moet weer op Maandag 12 April in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.
Die polisie het die gemeenskap geloof vir die inligting wat hulle aan die polisie deurgegee het wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes gelei het. Die gemeenskap word aangemoedig om misdaad aan te meld sodat die skuldiges vasgetrek kan word.