Meer as 200 vroulike plaaswerkers en -bewoners het in Worcester byeengekom om hul misnoeë oor blootstelling aan plaagdoders uit te wys.
Die Women on Farms-projek se vroue het vertel hulle en hul gemeenskappe ontwikkel ernstige nagevolge soos veluitslag, ’n seer keel, respiratoriese en neurologiese probleme en selfs kanker, volgens hulle.
Die groep voer aan plaagdoders wat in lande soos Duitsland vervaardig word, word in die Europese Unie verbied, maar na lande soos Suid-Afrika uitgevoer.
Hulle het ook op hul Facebookblad gedeel hoe Duitse plaaswerkers teen gevaarlike plaagdoders beskerm word terwyl Suid-Afrikaanse plaaswerkers aan plaagdoders blootgestel word.
Die vroue het die optog na die departement van arbeid se gebou gehou om ’n memorandum aan minister Thulas Nxesi te oorhandig waarin hulle onder meer vra:. ’n Verbod op hoogs gevaarlike plaagdoders wat reeds in die Europese Unie verbied is;. groter samehang en koördinasie tussen verskillende staatsdepartemente soos Arbeid, Landbou en Gesondheid;. die opdatering van die land se verouderde 1947-wetgewing wat plaagdoders in Suid-Afrika reguleer;. die afdwinging deur arbeidsinspekteurs van bestaande arbeidswette wat betrekking het op werkers se beskerming teen blootstelling aan plaagdoders; en. vervolging van boere wat werkers aan plaagdoders blootstel deur byvoorbeeld nie die nodige beskermende klere te verskaf nie en werkers dwing om weer wingerde te betree wat pas met plaagdoders bespuit is.
Die vroue beweer ook dat wasplek vir werkers wat aan plaagdoders blootgestel is, nie verskaf word nie.
Die plaasvroue het ’n memorandum aan Karen Fuller, die waarnemende bestuurder van die Worcester-arbeidsentrum, oorhandig.