Die Locals Unite-musiekgroep in Robertson maak weer ’n plan om ’n plaaslike skool te help.
Daniëll Adendorff, die stigter van die groep, en Locals Unite wil graag Laerskool De Villiers se rugbyspanne help om nuwe rugbytruie te kry en wil jou deel maak van hul groot dag.
“Die skool het tans tot vier rugbyspanne, maar slegs een stel truie waarin almal moet speel. Dit is natuurlik nie baie higiënies nie en ons wil seker maak dat elke speler minstens in sy eie trui kan speel. Die kostes om een trui te laat maak, beloop sowat R300, en elke span het 17 truie nodig,” verduidelik Adendorff.
Die projek gaan altesaam R5 100 per span kos.
“Ons het dit goedgedink om ’n geldinsameling in die vorm van ’n motorskou op Saterdag 9 April te hou. Hierdie skou sal bestaan uit motorliefhebbers van reg oor die Boland en Kaapse vlakte, wat hul motors kom parkeer en die dag geniet met almal teenwoordig. Daar sal ’n snoepie wees vir versnaperings asook gesigverf en speletjies vir die jongspan. Die skool hou ook braai-verkope teen R60 op die dag.”
Locals Unite asook twee plaaslike DJ’s sal die vermaak hanteer en een van die dorp se voorste rugbyspelers sal die jongspan toespreek.
“Ons nooi soveel as moontlik motorhandelaars asook ander ondernemings om motors, bande, onderdele, bybehore, skoonmaak-produkte ens. te kom uitstal en die dag te kom geniet. Wagte sal teenwoordig wees om die veiligheid van motors en besoekers te verseker.”
Toegang tot die skou beloop R50 per motor en bestuurder en R10 vir voetgangers.