Twee plaaslike CrossFit-kampioene is op pad na Amerika om aan die Crossfit-spele daar te gaan deelneem.
Dít volg nadat die fiksstes onder die fikses in Afrika onlangs bepaal is, en Damian (28) en sy vrou, Lize Burns (29), van Malmesbury is saam met hul spanmaats as die beste CrossFit-span in Afrika gekroon.
Die Afrika-halfeindronde, beter bekend as die “Fittest in Cape Town”-kompetisie, is verlede naweek by die Coetzenburg-atletiekstadion op Stellenbosch beslis.
Lize, wat in 2013 met die sport begin het, sê die CrossFit-seisoen het in Februarie vanjaar begin toe 300 000 deelnemers wêreldwyd aan ’n virtuele Ope begin deelneem het. Die eerste ronde wat deelnemers die geleentheid gegee het om vir die kwarteindronde te kwalifiseer, het uit drie sessies bestaan, wat oor drie weke gedoen kon word. Hiér het die Burns-egpaar saam met Mariska Smit en Jaco Brits van die CrossFit-gimnasium Commit Okavango as ’n span die eerste plek verower. Daarna het slegs 10% van elke vasteland, oftewel streek, na die kwarteindronde deurgedring, waartydens slegs 20 mans, 20 vroue en 20 spanne kon deelneem.
Die Commit Okavango-span het weer eens met vlieënde vaandels vir die halfeindronde gekwalifiseer.
Die topspan is verlede naweek saam met die individuele wenners in die vroue -en mansafdeling in die eerste plek in Afrika geplaas.
Lize sê slegs 40 mans, vroue en spanne elk ter wêreld sal uiteindelik aan die CrossFit-spele deelneem.
Die internasionale kampioenskap vind later vanjaar van 3 tot 7 Augustus in Madison, Wisconsin, in die VSA plaas.
Lize beskryf dit is as ’n groot prestasie vir die land, hoewel die sport relatief nuut in Suid-Afrika is.
Sy het haar CrossFit-reis op universiteit begin. Skolesport was verby en Lize het meer gesoek as wat sy uit haar draf- of oefensessies by die gimnasium kon kry. Sy het met gewigoptel begin en toe CrossFit ontdek. “Dit was toe nog ’n nuwe sport in Suid-Afrika, maar ek was onmiddellik dol daaroor. Elke dag was ’n nuwe uitdaging. Ek kon my mededingende kant uitleef en weer aan spansport deelneem.”
Damian het op sy beurt universiteitsrugby gespeel en toe liggaamsbou begin doen. Nádat die twee in 2018 ontmoet het, het Lize hom ’n jaar later uiteindelik oortuig om die sportsoort te probeer. Die koeël was deur die kerk en hulle het hul wens om aan spansport deel te neem, saam ervaar.
Die Burns-egpaar is – net soos hul van aandui – aan die brand. Hoe dan anders met ’n oefenskedule wat sommige twee keer sal laat dink om dié sport aan te pak? Lize is egter oortuig dat die liggaam sterker is as wat ’n mens dink. Sy was stomgeslaan om te sien waartoe sy in staat is.
Hul oefening bestaan uit nege tot tien sessies per week vir vyf dae en wissel tussen Malmesbury se Time2Train- en CrossFit Commit Okavango in Brackenfell.
Die halfeindronde wat die naweek van 27 Mei gehou is, het drie dae geduur en die deelnemers tot hul uiterste beproef.
Lize sê hulle fokus op onder meer hul fiksheid, krag, gimnastiese vermoë, spanwerk en baie meer. Die span, asook die individuele deelnemers in die vroue- en mansafdeling, met die meeste punte aan die einde van die naweek, is as die wenners aangekondig.
Dit sal nie net die eerste keer vir Damian en Lize wees om as ’n span saam na die VSA toe gaan vir die Spele nie, maar ook ’n eerste vir Suid-Afrika, wat twee agtereenvolgende jare ’n span na die eindronde-byeenkoms stuur.
Mariska en Jaco het verlede jaar as spanlede aan die Spele deelgeneem, terwyl Lize op haar beurt in 2018 aan die CrossFit-spele deelgeneem het.
Dit is geen geheim dat dié sportsoort strawwe oefenskedules inhou nie. Lize wil egter ander motiveer om nooit op te gee nie.
“Om fiks te wees en sterk te voel, is empowering.”
Sy sê dié sport het elke liewe aspek van haar lewe verbeter. “Ek werk daagliks om die beste weergawe van myself te word. Dit het my deursettingsvermoë en swaarkry geleer.”
Sy sê ook CrossFit is elke dag anders aangesien jy altyd aan iets moet werk of verbeter. “So, jy het altyd motivering. Jy kan altyd beter wees as gister, en dit is wat jou elke dag laat terugkom vir nog,” voeg sy by.