Piketberg-jeug kan begin planne maak

Piketberg se jongmense kan solank begin opgewonde raak, want die jeugsentrum in Calendulastraat is byna voltooi.


Piketberg se jongmense kan solank begin opgewonde raak, want die jeugsentrum in Calendulastraat is byna voltooi.

Ray van Rooy, die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se burgemeester, het verlede jaar plaaslike jongmense daarvan bewus begin maak dat die langverwagte jeugsentrum uiteindelik ’n werklikheid word. Die konstruksiefase van die projek was teen die vierde kwartaal van 2021 reeds goed op dreef.

Volgens Van Rooy is besluit om die geriewe te vernoem na Pietie Fredericks, wat voorheen vir die regte en die verbetering van die lewensgehalte van Piketberg se jongmense baklei het.

Volgens ’n persverklaring van BM in Maart is die Pietie Fredericks-jeugsentrum in Piketberg ’n R5,5 miljoen-beleggingsprojek, wat deur die munisipaliteit in samewerking met PPC De Hoek, Suiderlandplase, TipTrans en die Wes-Kaase provinsiale regering aangepak is.

Die doel van die jeugsentrum is om sterk jeugleiers vir die toekoms in die munisipale gebied te ontwikkel.

Die sentrum sal verskeie programme aanbied om jongmense fisiek en geestelik deur binnenshuise sport, nasorg, onderrig en ander vaardigheidsontwikkelings­inisiatiewe te ontwikkel.

Alletta van Sittert, bestuurder van strategiese dienste by die munisipaliteit, sê een van die BM se groot uitdagings is ’n gebrek aan voldoende ontwikkelingsgeriewe vir die jeug. “Die munisipaliteit het besluit die Pietie Fredericks-jeugsentrum sal ’n ideale jeugontwikkelingsinisiatief wees. Om ’n geïntegreerde benadering te verseker, word jeuggeriewe met ander behoeftes gekombineer om die beste benutting en ’n holistiese benadering tot die sameling as ’n geheel te skep,” het sy gesê.

Fase 1 van die projek, wat ’n groot deel van die bouwerk van die gebou behels, is nou feitelik voltooi.

Fase 2 van die projek word hoofsaaklik deur die Wes-Kaapse regering finansier en bouwerk aan die hierdie fase het vandeesweek reeds begin.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.