’n Jong verloofde paartjie van Robertson doen alles in hul vermoë om hulle dogtertjie by te staan terwyl sy ’n stryd teen kanker voer.
Dit volg nadat myelomonositiese leukemie – ’n seldsame chroniese leukemie – in 2020 by Leigh-Mae James (2) gediagnoseer is. Sy moes haar verjaarsdag op 13 Maart vanjaar in die hospitaal deurbring, maar haar ouers het die dag vir haar met ballonne en ’n koek spesiaal gemaak te maak.
Devonique Olivier (27) sê haar dogter is met ’n abnormale velkleur gebore, wat haar bekommerd gemaak het.
“Ek het haar na ons plaaslike huisdokter geneem, wat gesê het sy het vitiligo. Ek het dit nie daar gelaat nie en ’n afspraak by die pediater gemaak, waarna hy my na ’n dermatoloog verwys het. Sy is ingestuur vir sonar- en oogtoetse.”
Olivier sê die dermatoloog het gesê dit is nie vitiligo nie, maar kon nie op daardie tydstip sê wat fout was nie.
Sy sê die dermatoloog het foto’s van Leigh-Mae se vel geneem en dit aan ’n professor gestuur. Sy sê terwyl hulle vir antwoorde gewag het, het die pediater self ook bloedtoetse laat doen.
“Ons was op die spesifieke dag uit Worcester op pad Robertson toe en ek het my ma gevra of ek vir Leigh-Mae by haar kan los, omdat ek moeg was van die op-en-af-ryery van dokter na dokter,” sê Olivier.
Sy sê sy het haar oë ’n rukkie toegemaak, en minute nadat sy by die huis gekom het, ’n oproep van die pediater gekry. Volgens Olivier het iets vir haar gesê dit kan nie goeie nuus wees nie.
“Hy het vir my gesê my dogter het leukemie en gesê ons moet onmiddellik MediClinic toe kom. Ek was geskok en emosioneel en my ma gebel te sê sy moet Leigh-Mae bring.”
Olivier sê hulle is onmiddellik na die Tygerberg-hospitaal verwys omdat Leigh-Mae se witbloedsel-telling baie hoog was, wat haar in ’n gevaarsone geplaas het omdat sy so jonk was. Sy was destyds aar net drie maande oud.
“Toetse is geneem, ’n beenmurgbiopsie is gedoen en ek en sy is vir twee weke by Tygerberg opgeneem.”
Sy sê tydens die twee weke kon die dokters nie spesifiek sê watter kanker kanker dit was nie. Olivier sê ná die twee weke het sy gevra dat hulle ontslaan word. Sy sê hulle moes elke maand en soms twee keer per maand Tygerberg toe gaan sodat die dokter toetse kon doen om te sien wat haar witbloedsel-telling is.
“Gedurende hierdie tydperk het hulle jeugdige myelomonositiese leukemie (JMML), wat in kinders voorkom, by haar gediagnoseer. Ons is na die Rondebosch- mediese sentrum vir verdere behandeling verwys.”
Olivier sê hul enigste opsie was ’n beenmurgoorplanting. Gedurende dié tydperk het die dokters na ’n geskikte skenker vir Leigh-Mae begin soek. Sy sê geen was op die nasionale beenmurgregister nie en hulle het selfs internasionaal gesoek, maar kon niemand kry wat ’n pasmaat vir haar dogtertjie is nie.
“Die dokters het gesê ’n broer of suster sou die perfekte skenker wees, maar sy was ons enigste,” sê Olivier.
Olivier het in 2021 swanger geword met die hoop dat die seuntjie of dogtertjie ’n perfekte kandidaat sou wees. “Weereens was tyd nie aan ons kant nie en die dokter wou nie die kans waag om te wag totdat die babatjie oud of groot genoeg is om beenmurg te kan skenk nie.”
Sy sê die dokter het voorgestel dat sy nié die kans waag nie, aangesien baie risiko’s by kinders wat skenkers is, betrokke is.
Hulle het toe besluit sy sou self die skenker wees, alhoewel sy net ’n 50%-pasmaat is. Olivier het einde Februarie ’n klein operasie ondergaan waar stamselle uit haar liggaam verwyder is. Sy sê Leigh-Mae het ook verlede maand met chemobehandeling begin. Klein Leigh-Mae het 1 Maart ’n stamsel-oorplanting van haar ma ontvang.
“As alles goed verloop, gaan sy op 31 Maart ontslaan word, waarna sy as ’n buitepasiënt behandel gaan word.”
Olivier maan ouers om ag daarop te slaan wanneer hulle kinders verkoue kry of siek is.
“Baie keer is ons as ouers geneig om te voel dis net ’n verkoue of normale koors, maar leukemie loop hand aan hand met verkoue en hoë koors.
“So, ouers moenie net dink dit sal oorwaai nie, want leukemie word by kinders so jonk as vier maande gediagnoseer.”
Die meeste kere vind die ouers te laat uit.
“My dogtertjie was ook gesond, en niemand sou sê sy was siek nie.”