Toe pastoor Piet Smit van Malmesbury vroeg op 23 Augustus sterf, was dorpenaars kollektief geskok.
“Ons het dan vroegoggend nog die pastoor se geestelike WhatsApp gekry.
“Hy het altyd so mooi vir my gebid; my so mooi deur moeilike tye ondersteun,” was reaksies op sosiale media.
Sy stem is nou stil, maar hy word allerweë onthou vir sy veelsydigheid en sy vermoë om 100 dinge binne een dag te vermag. Hy word onthou as toegewyde geestelike leier, vir sy kitaarspel en sang. Hy het verskeie geestelike CD’s gemaak. Dit en sy preke is steeds op YouTube beskikbaar. Hy was lief vir fotografie – veral voëls – en het die Facebookblad “Voëls van die Wes- en Suid-Kaap” geskep. Verder was sy passie vir suiwer Afrikaans en die Swartland-atletiekklub aansteeklik. Hy het verskeie termyne op die klub se bestuur gedien – ook as voorsitter.
Smit se lidmate by die AGS Corpus Christi-gemeente, waar hy 15 jaar lank pastoor was, asook lidmate van die huisgemeente, wat hy ná sy aftrede in 2019 gevorm het, mis sy ywer vir die Here. Hulle mis sy aanlyn preke, sy ‘invalgedagtes’ (vroegoggende se geestelike WhatsApp-boodskappe) wat hy daagliks na kontakte oor die land heen en Namibië gestuur het, sy Bybel-vasvrae, bid-aande en bergklim-uitstappies na die Riebeekberggrot, wat hy gereeld gereël het.
Terwyl omgeeruikers nog sy huis vol staan, vertel sy vrou, Susan, “Piet is 69 jaar gelede as jongste van vyf kinders op die familieplaas Coenradenberg buite Hopefield gebore en getoë. Ons eerste ‘date’ was om saam kerk toe te gaan in die tyd toe hy ná matriek in Malmesbury by Bokomo kom werk het. Ná sy weermagjare het hy by OKP (die destydse Onderwyskollege Paarl) vir houtwerkonderwyser geleer. Ons huis staan vol meubels wat hy gemaak het.
“Ons is in 1978 getroud. Sy eerste pos was op Calvinia en later by ’n Willistonse plaasskool. Intussen het Piet buitemuurs studeer om pastoor te word.”
As pastoor was Smit en sy gesin 19 jaar lank in Calvinia en Vredendal en vier kinders is uit die huwelik gebore.
Die egpaar het in 2004 na Malmesbury verhuis.
“Piet was geweldig gedissiplineerd, sistematies en stiptelik, dis waarom hy soveel dinge binne 24 uur kon vermag. Hy het al sy projekte met deursettingsvermoë aangepak.”
Intussen onthou sy kleinkinders hom as avontuurlik, fiks, altyd vriendelik – en vir daardie bergklimme na die grot toe. Hulle onthou hoe hy hulle sou aanmoedig as dinge swaar trek en hulle aangemoedig het om die blink kant bo te hou.
“Piet het eers in 2001 aan padwedlope begin deelneem nadat ons dogter Johanna hom aangemoedig het. Sedertdien het hy gereeld eerste en tweede plekke in sy ouderdomsgroep losgehardloop. Ek het gewoond geraak aan Piet wat soggens 3:15 opstaan, eers Bybel lees en bid en 4:00 sy 10 km deur die dorp gaan draf – sweep in die hand om rondloperhonde weg te hou. Sy draftyd was sy bidtyd,” onthou Susan.
Pastoor Piet met sy verskeidenheid pette, sy liefde vir rympies maak, die manier hoe hy geleer het om aanlyn preke te maak en uit te stuur, sy #shorts (eenminuut-preekuittreksels wat hy uitgestuur het); hoe geweldig siek hy van Covid-19 was, sal lank onthou word. “Mense van heinde en ver het bydraes gestuur sodat hy tuis kon suurstof kry. Die Here het hom wonderbaarlik genees.
“Dan kom sit hy graag saans vir ’n tydjie hier by my terwyl ek sokkies vir die kinders brei.
“Maar toe begin Piet in Augustus aanvalle kry – iets wat lyk soos epilepsie. Gelukkig kon ons toe wegbreek na ons dogters wat in Oudtshoorn, Swellendam en Hermanus woon. Hy het al drie ons dogters nog op daardie Sondag 18 Augustus vir die laaste keer gesien.”
Drie doktersbesoeke en verskeie EKG’s later, is pastoor Smit vroeg op 23 Augustus aan ’n hartaanval dood.
“Ons voel getroos dat Piet in sy eie huis kon sterf en dat hy nie ’n lang lyding gehad het nie. Hy sou dit nie kon verdra om vir ander mense ’n ongerief te wees nie.
“Ek is hartseer, maar ek het berusting, want die Here maak nooit ’n fout nie.”