Orrel se 90ste gevier

Die NG Moedergemeente in Robertson se orrel word 90 en hulle hou Sondag ’n diens om hierdie mylpaal te vier.


Die NG Moedergemeente in Robertson se orrel word 90 en hulle hou Sondag ’n diens om hierdie mylpaal te vier.

Die Rushworth & Dreaper-orrel is in 1932 deur N.R. Ingleby, ’n orrelis van die Kaap, ingewy.

“Volgens rekords was daar vir die eerste keer in 1929 sprake van die orrel. In 1930 is tenders aangevra,” verduidelik Ockert Jonker, ’n lidmaat by die kerk.

Verder verduidelik hy die kerk was in daardie stadium bereid om net ’n sekere bedrag vir die orrel te betaal.

“Die kerk het vir die gemeente gevra om 1 000 pond in te samel, dan sou hulle die ander 1 000 pond gee. Maar uiteindelik het hulle amper 3 000 pond vir die orrel betaal. Wat ook baie interessant is, is dat die orrel in die depressiejare aangeskaf is.”

Die orrel word deeglik versorg en elke kwartaal gediens.

“Die orrel word vier keer per jaar gediens, maar verlede jaar het Darryl Coetzee, ’n orrelbouer van Bonnievale, die orrel deeglik gediens. Dit het hom omtrent drie of vier maande geneem om alles te doen. Die orrel is soos ’n juweeltjie vir die mense en word goed versorg.”

Volgens Maydene de Villiers is die gemeente almal opgewonde oor die vieringe wat Sondag plaasvind.

“Die viering word die oggend om 09:10 met ’n sangdiens ingelui, wat deur die bekroonde orrelis Zorada Temmingh begelei sal word. Tee en versnaperings sal ná die diens bedien word. Later die middag, om 16:30, sal ’n uitvoering deur Winand Grundlingh volg. Almal is welkom om die diens óf die uitvoering by te woon,” verduidelik De Villiers.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.