Kinders van ’n Strand-gemeenskap sal die nuwe skooljaar met ywer en die basiese skryfbehoeftes begin danksy die goedhartigheid van ’n plaaslike groep vriende.
Daar was die afgelope Saterdag (15 Januarie) groot opwinding in Solly Arendse-slot in Gustrouw, toe Friends Serving The Community (FSTC) tydens sy terug-skool-toe-geleentheid gesorg het vir breë glimlagte op dankbare gesiggies. Die groep het deur middel van skenkings verseker dat meer as 80 kinders van dié straat die akademiese jaar met die nodige gereedskap kan aanpak.
Volgens Gavin James, ’n FSTC-lid, is die groep reeds ’n paar jaar gelede op die been gebring met die hoofdoel om terug te ploeg in die gemeenskap waarin hulle grootgeword het. “Ons het die nood in die gemeenskap raakgesien en besef dat ons kan help,” het hy verduidelik.
“Meeste van ons het hier grootgeword en het in ons grootwordjare by die sopkombuise en liefdadigheidsprojekte wat hier gehou is baatgevind. Ons het besef dat dit nou ons tyd is om terug aan ons gemeenskap te gee.”
Die FTSC is reeds voor die Covid-19 staat van inperking besig om honger magies te voed en spesiale geleenthede, soos die terug-skool-toe-inisiatief, aan te bied. Hulle het ook tydens die feestyd blydskap en opgewondenheid na die harte van die jongelinge gebring met ’n Kersprojek.
“Tydens die inperking het ons regtig die nood in die gemeenskap raakgesien en kos uitgedeel,” het FTSC-lid Wilma Immelman meegedeel. “Baie inwoners het hul werke verloor en hul families het honger gely. Ons moes net ingryp en help deur middel van skenkings van borge en FTSC-lede.”
Die afgelope naweek is die kinders van Solly Arendse-slot ’n hupstoot gebied te danke aan die ondersteuning van, onder andere, die Grayswan-groep, Easy2Learn Kids Education Centre, Esani-trust, Auto Repair Centre, Rita en Godfrey Maree, en FTSC-lede. Die groep het ook die ondersteuning van twee paramedici, Arlene Niemand en Sulette Ligthelm, wat tydens elke geleentheid op bystand is.
Die kinders het volgens hul grade ’n basiese skryfbehoefte-pakkie, kosblik, koeldrankbottel, lekkergoed-pakkie en iets te eet en drink gekry. Diegene wat skoolskoene en ’n rugsak benodig het, is ook met splinternuwe goedere geseën.
“Ons beoog om ook na inwoners van ander gebiede uit te reik en skryfbehoeftes daar uit te deel,” het James gesê.
“Ons hoop om deur middel van ons inisiatiewe baie meer mense te bereik, maar het die ondersteuning van die gemeenskap en sakeondernemings nodig om die goeie werk voort te sit. Ons kan soveel meer doen om die gemeenskap te help.”
Die FTSC-groep beplan verskillende inisiatiewe hierdie jaar en sal die gemeenskap op sy Facebook-blad hiervan op hoogte te hou. .Vir meer inligting oor die groep en sy werk, kontak vir Wilma by 079 927 3333 of 071 614 0012 (WhatsApp), of Gavin by 065 241 8622.