Ek is in die bevoorregte, maar ook befoeterde posisie dat ek ’n nuwe spesie dief ontdek het. Miskien kom so-iets in Bishopscourt ook voor, maar hier in Malmesbury loop of kruip so iemand rond. Ek is 95% seker.
Ek noem hierdie fenomeen: Gesofistikeerde dief.
Die soort dief slaan nie jou vensters stukkend en hol met jou kat of TV-skerm of skootrekenaar weg nie. Woon ook nie in die sogenaamde onderdorp nie. Dis iemand met ’n oop gesig. Straks ’n man met ’n fyn snorretjie wat nie meer rook of drink nie, of ’n dame met ’n mooi lyfie wat gereeld gaan gim.
Ons het rankplante wat vanaf die binnekant van die erf oor ons tuinmuur tot op die sypaadjie rank. Ons ideaal was dat dit die sypaadjie toegroei. Mooi grondbedekking, maar dit vat jare se groei. En toe gebeur dit, waarskynlik in die nag, anders sou iemand dit gesien het. Iemand sny met ’n snoeiskêr al die ranke op die sypaadjie gelyk teen die muur af.
Netjiese joppie. Die plante teen die tuinmuur is nie beskadig nie. So netjies dat my Mariana vrou vra of ek seker is dat ek nie self die snoeiwerk gedoen het nie. Ek het maar gaan sit en dink en dink, maar besef dat ek nog nie so seniel is nie.
Toe het sy gesê: “Haai, miskien is dit die munisipaliteit wat sypaadjies skoonmaak!” Maar ek twyfel. Die munisipaliteit doen dit nie meer nie, of minder as selde. Kan onthou hoe hulle jare gelede gereeld met onkruiddoder die sypaadjies skoon gehou het. En buitendien, op dieselfde sypaadjie ’n entjie hoër op in die straat, staan die onkruid plek-plek heuphoogte. Lyk soos “Vredestraat Bosveld” in wording.
Gevolgtrekking: Iemand het die rankplante afgeknip om in sy of haar tuin oor te plant. Daar is glo ’n manier hoe mens dit doen en siedaar, jy het pragtige rankplante.
Ek weet dis ’n hipotese, ’n ongetoetste stelling want ek het dit nie gesien gebeur nie. Maar hoe op aarde anders verklaar?
Vir daardie “iemand” wil ek net sê: Jy is ’n DIEF! Maak nie saak wie jy is of wat jou status in die samelewing is nie. Miskien ry jy ’n Discovery SDV6 HSE met net 1 500 km op die klok. Al is jy ook ’n generaal in jou kerk, jy is ’n dief! Die netjiese manier hoe jy gesteel het wys jy is nie ’n dief van beroep nie. Jy was net momenteel skelm. Feit is, mens vra mos en vat nie net nie!
Hallo daar! Ek daag jou uit om my te besoek. Ek sal in jou gesig sê dat jy ’n dief is, gedistingeerde dief, darem ’n mooier benaming.
En as jy bieg sal ek vergewe, want ek verkondig die genade op baie kansels van hier tot aan die Weskus. En ek waarborg jou anonimiteit.
Maar, jy sal skadevergoeding moet doen. Jy sal die koste moet betaal vir die uiteet wat ek moes betaal om my vrou te troos