Die opgradering van die infrastruktuur vir sanitasie en afvalwaterbehandeling in Porterville vorder goed.
As alles volgens plan verloop, behoort die projek teen die einde van die maand voltooi te wees.
Só reken Rohann Stander, wat in beheer van projekbestuur en boubeheer by die Bergrivier-munisipaliteit (BM) is.
BM het R6,596 miljoen van die departement van water en sanitasie uit die infrastruktuurtoelae vir waterdienste ontvang.
Hierdie geld is toegewys om sleutelkomponente van die waterbehandeling-infrastruktuur te voltooi wat noodgedwonge afgeskaal moes word weens onvoldoende finansiering tydens ’n vorige fase van die projek.
Aangesien Porterville se behandelingsfasiliteit reeds kapasiteit bereik het, word die toelaag ook aangewend om die infrastruktuur se kapasiteit van 0,75 MF/dag tot 1,5 MF/dag te verhoog. Toekomstige ontwikkeling is ook in ag geneem om ruimte te skep vir verdere groei en ’n groter behoefte in die toekoms.
Die regeringstoelaag word gebruik om te verseker daar word aan die statutêre vereistes en standaarde met betrekking tot kwaliteit van die finale uitvloei voldoen, ook vir meganiese bystandkomponente om te verseker dat daar volhoubare funksionaliteit is en vir die herstel en onderhoud.
Gereelde terreinbesoeke word gedoen om te verseker dat die opgradering volgens die vereistes gedoen word.