Uiteindelik! Die langverwagte Paradyskloofpark-ontwikkeling en inkopiesentrum op Moorreesburg is op die vooraand om gestalte te kry.
Die munisipale bestuurder van die Swartland- munisipaliteit, Joggie Scholtz, noem dit ’n wesenlike inspuiting vir die streek. Die woordeboek sê sinonieme vir wesenlik is kern en essensie. Dit is inderdaad ’n essensiële gebeurtenis op hierdie tydstip en plek in die geskiedenis.
Die talle werksgeleenthede wat op die kort- en langtermyn geskep sal word, gee hoop.
Die deursettingsvermoë van die beleggers en Swartland-munisipaliteit wat vir ses lang jare hul visie vir dié ontwikkeling behou het, is prysenswaardig.
Talle mense is gewoonlik gekant teen ontwikkeling, en die gevolge daarvan kan nie altyd voorspel word nie omdat dit ongelukkig ook sosiale euwels en meer misdaad tot gevolg kan hê.
Die ander kant van die muntstuk, soos werkskepping en die opheffing van mense, weeg egter swaarder as die “sê nou’s” van die moontlike negatiewe gevolge.
Prospect Park is opwindende nuus en gee Swartland-inwoners beslis iets om na uit te sien.
Ons staan op die vooraand van opwindende gebeure wat goed is, ’n plek van oneindige moontlikhede