Stuur vir my ’n poskaart, is my groetwoorde wanneer vriende of familie wegtrek vir ’n vakansie ver van hier.
Dan kry ek indrukwekkende poskaarte van nuwe omgewings – kompleet met die beperkte skryfruimte op die agterkant.
Poskaartbriefies vertel hoe vriende in Milaan uitsien na ’n daktoer van die Duomo de Milano – as die wolke betyds lig, sal hulle selfs die Italiaanse Alpe kan sien.
Sommiges skryf die poskaart terwyl hulle op ’n bankie sit en kyk na Keukenhof se tulpe of Provence se laventellanderye – of sommer net Pretoria se pers jakarandastrate.
Vriende wat deur Pole toer, vertel hoe hulle sukkel om die mooiste poskaart in Kraków te kies: Dalk die uitsig oor die Vistula Rivier – die sogenaamde koningin van Poolse riviere? – of karaktervolle katedrale of die middeleeuse straatjies? Uiteindelik vertel hul poskaart van die Wielicska-soutmyn, ’n Unesco-erfenisgebied wat die geskiedenis van die eeu oue myn uitbeeld, kompleet met ‘n ondergrondse meer en katedraal daarbinne, plus stappaadjies van 3,5 km – en dit beslaan slegs 2% van al die ondergrondse roetes.
Ander poskaarte wys Holland se blou Delft-borde of Buenos Aires se wetgewerskantore – soms genoem Evita Perron se pienk paleis.
Die internet en ons slakkerige posdienste het poskaarte laat vervaag tot vergeelde items wat jongmense nie begryp nie en intussen boekmerke vir vyftigplussers geraak het.
Bring vir my ’n klippie saam, vra my haarkapper graag. Bring vir my ’n uiltjie, het ’n Kaapstadse onderwyseres eenkeer gevra. Sedertdien het sy honderde uilerige goeters ontvang. Want toe ouers besef waarvan sy hou, het uiltjie-items uit alle wêrelddele begin instroom vir verjaardae, Kersfees, dankie-wense, Moedersdag en dansdag.
Waarom is dit vir ons wat toer, belangrik om klein, ligte geskenkies van elders saam te bring? Waarom is dit vir ons as tuisblyers belangrik om ’n waslappie uit Harrods, ’n yskasmagneet of ‘n koffiebeker uit ons gunstelingstreek van ver te kry?
Omdat ons ‘van geweet’ wil wees; die lekkerte om te weet ek was in sy of haar gedagtes. Want op ’n manier het ek saamgetoer.
Wat ’n voorreg dat vriende my wou deelmaak van hul goeie tye.
Wanneer ’n Swartlandse hart hierdie soort ingesteldheid het, bring jy sommer uit die Paarl, Stellenbosch of Weskus ‘n klein geskenkie saam – ’n Langebaanklippie of bokkombroodjie, want nie almal kan boksies tee uit Yorkshire se 106 jaar oue Betties’ Tearoom saambring nie.
Wanneer jy ’n nuwe gereg in jou kuier-omgewing geniet en die resep tuis saam met vriende kom uittoets, dra daardie omgee veel meer gewig as die papiertjie waarop die afgebedelde resep geskryf staan. Dink net, (hierdie keer) die regte-egte Italiaanse tamatiesous of die praktiese wenke van portugese melktertjies (pasteis de nata) uit Portugal of Mosambiek.
Vreemd genoeg raak die uitdeel en omgee ewe lekker vir die gewer as vir die ontvanger – amper soos daardie spreekwoord wat sê wanneer jy vir iemand ’n bossie blomme gee, sal ‘n geurtjie daarvan lank nog in jóu handpalm talm.


