Die plaaslike takke van Ons Winkel bied inwoners van die Helderbergkom nie net die geleentheid om goedere teen billike pryse te koop nie, maar ook die kans om liefdadigheid in die gemeenskap te ondersteun.
Die streek pronk met twee Ons Winkel-takke in Strand en Somerset-Wes, waar dit ’n waardevolle bydrae tot die samelewing lewer. Die Strand-tak het in Augustus verlede jaar na ’n groter perseel in Kusweg verhuis en beide takke bied ’n verskeidenheid goedere teen sakpaspryse.
Ons Winkel is ’n geldinsamelingsafdeling van Solidariteit Helpende Hand, wat in 2010 as ’n skenkingswinkel in Centurion geopen is. “Die eerste winkel in Centurion het gedien as ’n plek waar die publiek gebruikte produkte wat hulle nie meer gebruik nie, vir liefdadigheid kon skenk,” het Alicia Malan, bestuurder van Ons Winkel Strand, verduidelik.
“Die inisiatief was so gewild en soortgelyke winkels is daarna in ander dorpe landwyd geopen. In 2016 is die skenkingswinkels onder een vaandel, Ons Winkel, geplaas.”
Die Strand-winkel is in Oktober 2017 geopen, terwyl die Somerset-Wes-winkel, wat deur Malan se eggenoot, Daniël, bestuur word, in April 2019 begin het. Die paartjie, wat hulle beywer om die gemeenskap op te hef, word deur die assistente Joyce Jeffree (Strand) en Tanya Lourens (Somerset-Wes) in die plaaslike winkels gehelp.
“Helpende Hand gebruik die wins van die verkope vir maatskaplike hulp aan die gemeenskap, werksgeleenthede sowel as studiefondse aan studente wat wil studeer, maar dit nie kan bekostig nie,” het Malan gesê. “Goedere word van uit die Helderberg-gemeenskap gewerf; enigiets van meubels, klere, skoene, kombuisware, linne, huishoudelike items en elektroniese goedere tot CD’s, DVD’s, speelgoed, sport-toebehore, boeke en meer word verwelkom en verkoop. Jou produk is nie net ’n ding nie; dit is ’n toekoms. Dit is my winkel; dit is jou winkel; dit is Ons Winkel.”
Die amptelike heropening van die groter Strand-tak is in Desember gevier en die besluit om die winkel na ’n groter perseel te verskuif, is geneem sodat hul meer goedere kan aanhou en verkoop. “Die oorspronklike winkel was baie klein en ons kon nie meubels en groot goed inneem nie. Dit het net te klein begin raak en ons klante kon nie altyd lekker shop nie,” het Malan oor die ruim nuwe winkel by Kusweg 76, net langs die vorige perseel, gesê.
Die sukses van die winkels hang grotendeels af van die steun van die gemeenskap deur middel van hul skenkings van gebruikbare tweedehandse goedere en die goedere wat ander koop. “Elke bietjie help om die winkels te laat groei – hetsy deur verkope of skenkings; só maak jy ook ’n verskil in die gemeenskap. Ons het altyd winkelvoorraad nodig,” het Malan die gemeenskap aangespoor.
“Lede van die gemeenskap kan ook as vrywilligers betrokke raak en help om boeke te sorteer, klere op te hang en net ’n handjie by te sit. Ons het ook hulp nodig om goedere by skenkers op te laai en ander takies in die winkels te verrig.”
Al twee winkels is weeksdae van 09:00 tot 16:30 oop, en Saterdae van 09:00 tot 13:00. Die Somerset-Wes-tak, wat in die Somerset-sentrum in Victoriastraat geleë is, is vakansiedae gesluit, maar die Strand-tak is gewoonlik hierdie dae tot 13:00 oop.
Skenkings kan by die winkels afgelaai word of mense kan met die bestuur reël om dit op te laai. . Kontak Alicia by 083 560 7394 of strand@onswinkel.co.za vir nog inligting oor Ons Winkel Strand. Vir nog inligting oor Ons Winkel Somerset-Wes, kontak Daniël by 063 160 4874 of somerset.wes@onswinkel.co.za.